Miljoene ontvang maatskaplike toelaes

Begunstigdes wag in die ry by ‘n maatskaplike toelaag-betaalpunt in Nongoma, KwaZulu-Natal (1 April 2017). Foto: Twitter via @GovernmentZA

Miljoene Suid-Afrikaners het vandag maatskaplike toelaes by betaalpunte regoor die land ontvang, het die departement van maatskaplike ontwikkeling gesê.

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het op hul amptelike Twitter-rekening gesê teen 12:00 is 4,2 miljoen begunstigdes se toelae aan hulle uitbetaal.

Talle het gevrees dat maatskaplike toelae nié hierdie maand soos gewoonlik aan die ongeveer 17 miljoen begunstigdes uitbetaal sou word nie, nadat die departement en Sassa verlede maand erken het hulle is nie in staat om self die uitbetaling van toelaes vanaf April te hanteer wanneer die huidige diensverskaffer, Cash Paymaster Services (CPS), se kontrak tot ʼn einde kom nie. Die saak het in die konstitusionele hof gedraai. Dié hof het beveel dat CPS se kontrak vir nog 12 maande verleng moet word om te verhoed dat die betaling van maatskaplike toelae onderbreek word.

Die departement het in ʼn verklaring gesê begunstigdes is aangemoedig om die Sassa-inbelsentrum met navrae te skakel en teen 10:00 het die sentrum reeds 1 500 navrae hanteer. Begunstigdes wat hul toelae by Sassa-betaalpunte ontvang, is ook herinner dat hulle dit Maandag sal ontvang wanneer hierdie betaalpunte weer oop is.

Die verhoging in maatskaplike toelaes wat in Februarie deur Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, tydens sy begrotingsrede aangekondig is, is ook vanaf hierdie maand van krag. Die ouderdomspensioen het met R90 tot R1 600 gestyg vir pensioenarisse ouer as 60 en tot R1 620 vir pensioenarisse ouer as 75.

Die toelae vir ongeskiktheid en sorg vir afhanklikes het ook met R90 tot R1 600 gestyg. Pleegsorgtoelaes het met R30 tot R920 per maand gestyg en kinderonderhoudstoelae met R20 tot R380 per maand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Varkie ·

Ek was onder die indruk hulle toelae gaan eers Maandag betaal word volgens n vorige berug.. het seker iets gemis

Ramkat ·

Varkie,
Ek het ook so gedink.
SASSA se EIE betaal punte is eers Maandag in werking.
OTM en ander betaal punte reeds vanaf 1 April diensbaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.