Miljoene opgedok om politici te beskerm

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Aantal vooraanstaande politieke figure, polisiehoofde en persone van belang geniet sedert 2019 persoonlike polisiebeskerming wat belastingbetalers reeds honderde miljoene rande uit die sak gejaag het.

Dít volgens Bheki Cele, minister van polisie, wat ʼn geskrewe vraag deur die VF Plus hieroor geantwoord het.

Volgens Cele ontvang 179 politieke figure tot op hede steeds persoonlike polisiebeskerming, waarvan die koste jaarliks amper R200 miljoen per jaar beloop. Persone wat beskerm word sluit in ministers, adjunk-ministers, provinsiale premiers, lede van uitvoerende rade, die speaker en adjunk-speaker van die parlement, voorsitter en ondervoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), provinsiale speakers en adjunk-speakers, die hoof- en adjunk-hoofregter, regterspresidente en sogenaamde politieke persone van belang.

ʼn Bykomende vyf politieke figure het tussen Mei 2019 en einde 2020 beskerming ontvang, maar die beskerming is sedertdien opgehef.

Sewe polisiehoofde ontvang ook beskerming, insluitend die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole. Dié beamptes het elk tussen twee tot vier polisiebeamptes wat vir beskermingsdoeleindes aan hulle toegewys is.

Al die senior polisiebeamptes wat beskerm word, is in Gauteng en die Wes-Kaap.

Meer as R187 miljoen is in die 2019-’20-boekjaar hieraan bestee, en ongeveer R177 miljoen in die 2020-’21-boekjaar. Sedert April vanjaar het belastingbetalers nóg amper R35 miljoen opgedok om dié lede te beskerm.

“Dit is totaal onaanvaarbaar dat daar pogings aangewend word om die publiek se vermoë en reg om hulself te beskerm weg te neem, terwyl talle politici steeds omring word met opgeleide en gewapende polisielede vir beskerming,” het Fanie du Toit, ʼn VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) in Noordwes, gesê, met verwysing na die beplande wysigings aan die Vuurwapenwet.

“Die ironie is dat die publiek, wat toenemend aan misdaad uitgelewer is, boonop hiervoor moet opdok.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

JM ·

En teen wie word hierdie politici beskerm? Teen hul EIE mense!!

Persheks Adri ·

Ja hoed en jy wil ons ontwapen, maar jy kan nie 1 dag soos ons op ons vlak kom lewe nie! Dink jy dis lekker met al die misdaad om ons en om die hele tyd rond te kyk en op jou hoede te wees?

Casper ·

As ek so droog maak soos die politikuste sal ek beskerming waardeer dankie omie met die hoed.Waarvoor is hulle bang.Ek mag my en my gesin nie beskerm nie.Daai klomp kan hulle nie self beskerm nie nou moet die ewe vrotsige polisie dit doen.

koos10 ·

Jip en die VIP afdeling se begroting is meer as die Forensiese afdeling!

Persheks Adri ·

Waarvoor is hulle so bang? Vra maar net… Ons moet self sorg vir ons veiligheid

Hasie ·

Hul geniet beskerming terwyl die man op straat homself nie eers kan verdedig nie.

Persheks Adri ·

Ons kan en mag onsself verdedig die geheim is om dit binne die wet te doen, maar jy weet mos hoe werk die regstelsel teen die tyd vir ons

Carina ·

Vir wat, waarvoor is julle so bang?? Ons mag nie onsself beskerm nie maar hulle kry beskerming op ons onkoste? Die hele lot behoort afgedank te word sodat hulle weer soos ons gewone mense kan leef. Dan praat ons weer.

Persheks Adri ·

Stem saam! Hulle sal nie 1 dag oorleef om op ons vlak te leef nie!

Elize ·

Dis waarheen al die geld gaan. Kriminele word beskerm teen kriminele.

Jack ·

En die boere dan. Wie is belangriker as die wat kos voorsien beslis nie die wat die geld wanbestuur nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.