Miljoene rand se dwelms langs N12 gevind

Die polisie het Dinsdag operasie op dwelms ter waarde van R12 miljoen langs die N12 in Springs beslag gelê. (Foto: SAPD)

Die polisie het Dinsdag tydens ’n multidissiplinêre operasie op dwelms ter waarde van R12 miljoen langs die N12 in Springs beslag gelê. ’n 37-jarige man is op die toneel in hegtenis geneem en sal Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die multidissiplinêre operasie is gelei deur lede van die Trilateral Planning Cell (TPC) – ’n taakspan wat uit ’n samewerkingsooreenkoms tussen Mosambiek, Suid-Afrika en Tanzanië se polisie‑eenhede op die been gebring is om georganiseerde misdaad te bekamp. Dit is hoofsaaklik gestig om die hoë toestroming van heroïen na Mosambiek, Suid-Afrika en Tanzanië teë te werk.

Lede van die TPC het die betrokke roete in Springs Dinsdag in samewerking met narkotika‑speurders van die SAPD, misdaadintelligensie en die K9-eenheid aan die Wes-Rand dopgehou.

Die span het inligting opgevolg dat die verdagte van Mosambiek af gereis het in ’n wit Ford Ranger waarin heroïen en metamfetamien versteek is.

Met behulp van die K9-honde is dwelms gevind wat in ’n kompartement van die voertuig versteek was. (Foto: SAPD)

Kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê die taakspan het die voertuig omstreeks 14:30 gewaar en voorgekeer. Die voertuig is deursoek en met behulp van die K9-honde is dwelms gevind wat in ’n kompartement van die voertuig versteek was. Dit was in plastiekhouers verseël.

Die verdagte is in hegtenis geneem en van dwelmhandel aangekla.

Lede van die publiek word aangemoedig om misdaad by 0860010111 aan te meld of die MYSAPS-App op enige Android- of slimfoon af te laai. Inligting sal met as vertroulik hanteer word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

Ja want hulle kom en gaan oor die grensposte want daar is geen beheer en klomp korrupte grenspos beamptes

Harley Davidson ·

Goed gedoen deur die verskriklike baie gedisiplineerde eenheid en ek het nie geweet daar bestaan so iets soos ‘n narkotika speurder nie sover ek weet is die narkotika eenhede gesluit deur die huidige regime.

absoluut ·

Welgedaan aan die mense wat hom vasgetrek het. Aangesien ons nie meer die doodstraf het nie sal ek aanbeveel dat daai persoon wat hulle gevang het net die dwelms moet opeet daar voor hulle, alles sodat daar niks oor is om te versprei nie

Asgat ·

Uitstekende werk, al probleem is dat hy tien teen een al klaar gisteraand uit is op borgtog van R1000 en daar kom niks van die saak nie. Ongelukkig het die manne prokureurs met geld…

Swerwer ·

Dankie vir die Taakspanne, dit laat mens tog hoop gee dat daar wel ‘n draaipunt gekom het in hierdie Kommunistiese land van ons en dat geregtigheid stadig maar seker gaan plaasvind en misdaad en kommunisme uitgeroei sal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.