Miljoene rande bestee aan kliniek ná brandstigting

Die Ikhwezi Community Day Centre in Nomzamo naby die Strand is verlede jaar in ‘n brand beskadig. (Foto: ANA)

Daar is altesaam R8,1 miljoen bestee om ’n Wes-Kaapse kliniek te restoureer nadat dit sowat sewe maande gelede in ‘n brand beskadig is. Die versekering het R4,9 miljoen van dié bedrag gedek.

Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê die Ikhwezi Community Day Centre in Nomzamo naby die Strand is Donderdag weer oopgestel vir lede van die publiek nadat dit in Mei verlede jaar aan die brand gesteek is.

“Die res van die geld moes kom van ander verdienstelike kapitaalprojekte wat agterweë moes bly [om die kliniek te herstel]. Net die medisyne en entstowwe wat in die apteek geberg word, het reeds R1 miljoen beloop. Die koste van hierdie irrasionele daad bedra egter veel meer as bloot die geld wat uitgegee is,” sê Badroodien.

Daar is aanvanklik beplan om vanjaar ’n ontvangsgedeelte, personeelkamer en badkamers vir kliënte en personeel aan te bou. “Dit sal nou nie meer kan gebeur nie,” sê Badroodien.

Ikhwezi was voor die brand een van die grootste gesondheidsorgfasiliteite van Kaapstad se munisipale omgewing met gemiddeld 500 pasiënte per dag. Dit het ook 5 238 pasiënte met anti-retrovirale behandeling bygestaan en jaarliks ​​ongeveer 500 mense vir tuberkulose behandel.

’n Beloning van R5 000 word uitgeloof aan enigiemand met inligting wat kan lei tot die vervolging van die persoon wat verantwoordelik was vir die brandstigting. Inligting kan by die naaste polisiestasie aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

RyanSA ·

Maar hoekom?.. Dis mos nou presies wat die eff wil hê, aag brand af, versekering sal uitbetaal en hulle sal ‘n beter een bou.. dis dieselfde mentaliteit wat orals gebruik word waar goed afgebrand word, skole, universiteite, treine ens..

Leonie ·

Dis malligheid. Oor ‘n maand of twee gebeur dit weer. Hulle het in Bronkhorstspruit ook die kliniek en bib afgebrand en Ekurhuleni het besluit dit kan maar net so bly want hulle worry mos nie.

Moedeloos ·

Staats hospitale kla reeds omdat hul nie genoeg medikasie het vir pasiente nie. Nou moet onnodige geld gaan na n afgebrande kliniek wat ook baie nodig is in die samelewing. Maar ai wanneer gaan die mense leer om nie te brand en vernietig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.