Miljoene rande om Kaapse fasiliteite te beveilig

Argieffoto: Pixabay

Die Stad Kaapstad se direktoraat van maatskaplike dienste het Woensdag gesê hy sal R40 miljoen bestee om gemeenskapsfasiliteite met alarms, diefwering en ander veiligheidsmaatreëls toe te rus om dit teen misdadigers te beskerm.

Dié fasiliteite sluit in klinieke, biblioteke, gemeenskapsentrums, sportvelde en oorde wat gereeld deurloop onder vandalisme en ander misdaad. Dit lei daartoe dat die stad miljoene rande moet opdok vir herstelwerk en die vervanging van gesteelde toerusting en infrastruktuur.

“Die stad het honderde fasiliteite wat ontwerp is om die behoeftes van die gemeenskappe te dien, maar hierdie dienste val gereeld plat omdat die geriewe beskadig word en dienslewering en toegang daartoe ontwrig word,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid van veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, gesê.

“Dit is nie net ʼn groot finansiële las om deurentyd herstelwerk te doen nie, maar dit raak ook die moraal van inwoners en personeellede.”

Die direktoraat finansier ook nou die ontplooiing van 90 aanvullende wetstoepassingsbeamptes en 70 veiligheidsbewaarders as deel van ʼn projek wat in 2017 begin is waardeur toegewyde buurtwaglede opgelei en daarna in diens geneem word om patrolliediens in hul gemeenskappe te doen.

Daar sal ook ʼn bykomende 312 veiligheidsbewaarders ontplooi word na die gemeenskapsfasiliteite waar misdaad die meeste voorkom om hierdie plekke te beveilig.

“Ons bestee baie geld daaraan om die beskerming van ons fasiliteite te verbeter, maar die gebruikers en omliggende gemeenskappe het ook ʼn rol om te speel,” het Smith gesê. “Hierdie gemeenskapsfasiliteite is noodsaaklik vir jeug- en gemeenskapsontwikkeling en daarom kan ons nie net sit en toekyk hoe ʼn paar mense die goed vernietig wat tot voordeel van so baie ander is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Keelvol ·

Dit is R40miljoen wat vir die skep van nuwe infrastruktuur en basiese dienste kon gaan.
Maar nee!!!! Kom ons breek af wat ons het en brand dan weer bande en betoog omdat ons nie meer het nie.
Ons kry mos alles verniet en het geen idee waar die geld vandaan kom nie.
Daarby skep die vandalisme werksgeleenthede 90+70+312=472. Van die 472 is ook korrup en sien nooit iets gebeur nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.