Miljoene rande se dwelms en renosterhorings by OR Tambo gevind

Argieffoto

Twee verdagtes is die afgelope naweek by die Internasionale Lughawe OR Tambo in hegtenis geneem nadat daar op dwelms en renosterhorings ter waarde van meer as R6 miljoen beslag gelê is.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes is vasgetrek deur ʼn span van die polisie, die Suid-Afrikaanse inkomstediens (SAID), die departement van binnelandse sake en die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa).

“Doeanebeamptes en die polisie se honde-eenheid het Saterdag op ʼn vliegtuig wat van São Paulo af in die land aangekom het, ʼn soektog uitgevoer en passasiers ondervra. ʼn Brasiliaanse passasier is ondersoek ná daar geen etikette aan sy bagasie gekry is nie,” het Naidoo gesê.

Die man is na ʼn algemene deursoekafdeling geneem en “swart blokke” is in sy bagasie gevind. “Voorlopige ondersoek dui daarop dat dit kokaïen is. As die vermoede bevestig word, sal dié vonds sowat R5 miljoen werd wees.”

Volgens Naidoo is dieselfde vliegtuig verder deursoek en twee sokkies met “kokaïen-koeëls” in verskillende toilette aan boord aangetref. “Niemand is nog in verband met dié dwelms in hegtenis geneem nie,” het Naidoo gesê.

In ʼn onverwante voorval is nog ʼn man Vrydag in hegtenis geneem nadat daar glo vyf renosterhorings in sy besit gevind is.

“Doeanebeamptes het inligting ontvang oor ʼn verdagte sak wat na Hongkong onderweg was en die eienaar van die sak is by die instaphek voorgekeer.”

Volgens Naidoo is die verdagte na die doeane-deursoekgebied vergesel waar sy sak deursoek is. “Daar is vyf renosterhorings in foelie toegedraai in die sak aangetref,” het Naidoo gesê. Die man is gevolglik in hegtenis geneem. Die horings is aan die Valke oorhandig vir nadere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skande ·

Ja maar alles word mos nou deesdae gewettig. Gedink as julle die verkoop van Renosterhorings lokaal wettig maak sal daar nie meer renosters gedood word nie? Domste besluit ooit .. wie wil dit lokaal verkoop? Dit was van die begin af vir die oorsese mark bestem. Moenie nou huil nie, deesdae kan elke Tom Dick en Harry mos ‘n wet maak, en gewoonlik gaan dit oor wat hulle daaruit kry.

Adrian ·

Yip more is hy uit op borg van n paar duisend rand en dan ….gone

Johanna Botha ·

So die minister van polisie skrik die skelems nie af nie …nou gebeur dit eers of wat ?

popeye ·

Hierdie presiese -tipe nuus word weekliks herhaal en tog skrik dit nie die kriminele af nie! Die produkte bly dieselfde, die deursit punt bly dieselfde….hmmmm, ek ruik ‘n gekookte dagoud hoender-broccoli-eier dis!

R.I.P Wayne ·

Wayne sou bly gewees het vandag oor die in hegtenis name van die Renoster horing smouse. R.I.P Wayne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.