Miljoene rande se dwelms op boot gekry

Die kokaïne waarop beslag gelê is (Foto: Verskaf)

Die polisie het tydens ʼn dwelmklopjag op R16 miljoen se kokaïne beslag gelê wat in ʼn skeepsvraghouer in die Durbanse hawe gevind is. Dié houer het op ʼn skip vanaf Brasilië, Suid-Amerika, in Suid-Afrika aangekom.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, het gesê ʼn gesamentlike operasie deur die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, die eenheid vir misdaad-intelligensie en die Suid-Afrikaanse inkomstediens se taktiese intervensie-eenheid het verlede week Maandag inligting ontvang oor ʼn vraghouer vol dwelms wat vanaf Suid-Amerika die land gaan inkom.

Met die skip se aankoms by die hawe het die saamgestelde ondersoekspan die skeepsvraghouer onderskep. Toe hulle die houer oopmaak, was die houer egter gevul met ander inhoud.

Die kokaïne was versteek in die skeepsvraghouer (Foto: Verskaf)

“Na ʼn verdere deeglike ondersoek het hulle ’n versteekte kompartement in die houer ontdek waarin die dwelms versteek was,” sê Mhlongo.

Mhlongo sê die kokaïne was in pakkies toegedraai.

Die span het altesaam 32 blokke kokaïne van 1,1 kg elk in die houer gevind.

Die straatwaarde van die dwelms beloop R16 miljoen. Mhlongo sê sodra dié dwelms egter verdun word en met ander skadelike middels gemeng word, sou die straatwaarde daarvan aansienlik verhoog.

Niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek tans die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eerlik ·

Dis jammer dat die taktiese eenheid slegs op wenke/inligting hulle werk reg kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.