Miljoene rande se nagemaakte skoene by grenspos onderskep

Die vragmotor wat voorgekeer is. Foto: SAPD

ʼn Vragmotorbestuurder van Botswana is in hegtenis geneem nadat hy deur die Kopfontein-grenspos geglip het met vervalste goedere ter waarde van miljoene rande in die voertuig.

Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, het gesê die vragmotor het Dinsdag omstreeks 22:15 van Botswana by die grenspos aangekom. ʼn Polisiebeampte wat by die grenspos aan diens was, het die vragmotor by die ondersoekarea voorgekeer en doeane-beamptes gaan roep om hulle in kennis te stel van die vragmotor.

In dié tyd het vragmotorbestuurder sonder toestemming deur die grenspos gery. Toe die beampte na die soekarea terugkeer, was die vragmotor skoonveld.

Van die nagemaakte skoene waarop daar beslag gelê is. Foto: SAPD

Tselanyane sê beamptes het die vragmotor agternagesit en dit ongeveer 2 km van die grenspos voorgekeer en die bestuurder opdrag gegee om na die grenspos terug te keer. Daar is die vragmotor oopgemaak om die vrag te ondersoek.

“Daar is 200 bokse vol nagemaakte skoene in die vragmotor gevind met ʼn geraamde waarde van R17 miljoen. ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die bestuurder slegs verklaar het dat hy blikkie-deksels vervoer. Die egtheid van die skoene is nagegaan en daar is bevestig dat dit nagemaak is. ʼn Saak van die smokkel van nagemaakte goedere is aanhangig gemaak,” het Tselanyane gesê.

Die 42-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en sal in die Lehurutshe-landdroshof in Noordwes verskyn.

Die saak word deur die Valke ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Adri ·

Nou wonder almal wat is nagemaakte skoene. Lyk die goed soos skoene, maar is nie skoene nie, of wat? Opregte skoene is skoene, maar nagemaakte skoene is iets anders wat soos skoene lyk?

Paula ·

Hehe! Ja, ek wonder ook ernstig. Sou dit nou vals skoene wees soos in valstande, vals geld of ‘n vals snor? Of miskien kunsskoene soos in kunsgebit of kunsblomme? Of dalk onegte skoene soos nagemaakte diamante, maw gemaak van plastiek of lap of papier? Hoe lyk die egte, opregte, oorspronklike skoene dan? Raaiselagtig… Hehe!

magda ·

Verstaan die mense nie, doen die Doane iets geod, is dit verkeerd, doen hulle niks is dit verkeerd. Hou op om dan te kla oor n korrupte SA, as julle altyd niks goeds te se het nie. Dankie vir die Doane wat gehelp het om die ttrok te keer.

ZAR ·

Nagemaakte skoene:
Mike’s, Jinny Choose, Abidas, Crox, Now Balanse, Cheep, Red cross, Zuma, Basics, Tronx, PaterKillar, Lo Tech, Elvi’s, Ribbok, Sketches en Grasslopers.

Amber ·

Adri, ek dink nagemaakte skoene is bv. Adidas of Nike. Dis logo’s word vervals en as die ware produk verkoop. Wel, dis wat ek dink.

Anoniem ·

En dit is maar net die begin.daai trok gaan net eenvoudig deur ry Johannesburg toe.Hallo ANC my China.

annie ·

Ek kan dink die bewoording moet effens aangepas word om dit beter te verduidelik. Dit klink regtig verkeerd.

Leonora ·

Dit wil se….as n hond nie opreg is nie, is dit n nagemaakte hond….?
Skrywer het waarskynlik bedoel, dit is n nagemaakte handelsmerk, maar tog steeds n skoen.

christa ·

ingevoerde/gesmokkelde skoene is goedkoper as die items in ons eie land. Ek sal beslis van dit gekoop het as die prys my geval het. Hoekom betaal ons in ons eie land duurder as vir ingevoerde items?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.