Miljoene rande se renosterhorings by lughawe ontdek

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Suid-Afrikaanse doeanebeamptes by die OR Tambo-lughawe in Johannesburg het Donderdag op renosterhorings ter waarde van R52,4 miljoen beslag gelê. Die horings was in ʼn besending – wat as druktoerusting voorgedoen is – versteek.

Altesaam 18 horings is tydens ʼn roetine-inspeksie by die lughawe se koerierfasiliteit ontdek. ʼn X-straal-skandering het aan die lig gebring dat die voorwerpe binne die besending soos die vorm van renosterhorings lyk.

Die besending horings was glo onderweg na Maleisië.

Niemand is in hegtenis geneem nie omdat die besending per koerier gestuur is.

Dit is die vierde beslaglegging op renosterhorings by dié lughawe sedert Julie. Horings ter waarde van ongeveer R233,4 miljoen is al amper só uit die land gesmokkel.

Suid-Afrika, waar ongeveer 80% van die wêreld se renosterbevolking woon, loop jaarliks onder stropers deur.

Maroela Media het vroeër berig dat die renosterstropery wel die afgelope ses jaar aan’t afneem is.

Volgens die departement van omgewing, bosbou en vissery het Suid-Afrika veral verlede jaar ʼn beduidende afname in voorvalle van renosterstropery gehad. Daar is altesaam 394 renosters verlede jaar vir hul horings in Suid-Afrika gestroop – 33% minder as die 594 renosters wat in 2019 weens stropery doodgemaak is.

Die Krugerwildtuin het verlede jaar 1 573 sogenaamde stropingsaktiwiteite aangemeld – ʼn afname van 21,9% vergeleke met die 2 014 voorvalle wat in 2019 aangemeld is.

Die DA het egter gesê hierdie syfers is teenstrydig met dít wat die DA op voetsoolvlak verneem.

Volgens hierdie party het SANParke ook vandeesweek syfers bekend gemaak wat ʼn somber prentjie oor die toekomstige voortbestaan van renosters in Suid-Afrika skets. Hy het onthul dat daar nog net 3 529 witrenosters en 268 swartrenosters in SANParke oor is.

Die DA meen volgens dié syfers is die wit- en swartrenosterbevolking van Suid-Afrika byna uitgesterf en moet daar meer gedoen word om teenstroperypogings te vermeerder en moontlike korrupsie binne die reservate die hoof te bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Beriggewing oor afnames in stropery is ‘n onding. Dit gee verkeerde beeld aan potensiele stropers. Selfs deurgee van getalle! Hou die info dig asb. Dit val in verkeerde hande

Hennie J ·

Iewers klop iets nie. Hoe kan die oorsprong van die besending nie bepaal word nie al het dit per koerier aangekom. Alweer n kader wat te moeg is om te dink of wat nog geleer moet word om te dink?

JohanR ·

Die horings wat hulle nou kry is al lankal gestroop en geberg. Vanaf 26ste Maart was daar nie ‘n manier om dit land uit te kry nie. Nou dat daar weer oorsee vlugte is kom die gebergte renoster horings te voorskyn. Daar gaan nog horing in die komende weke by die lughawe ontdek word. Daai Vietnamese mans word nou gretig vir die afrodisiac!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.