Miljoene rande se vee in Oos-Kaap gebuit

Gesteelde skape in Mount Flecher. (Foto: SAPD)

Oos-Kaapse boere het tydens die afsonderingstydperk miljoene rande se skade weens veediefstal gely.

In antwoord op ʼn vraag in die Oos-Kaapse wetgewer, het Weziwe Tikana Gxothiwe, LUR van vervoer en veiligheid in die provinsie, erken dat 5 636 plaasdiere tussen 27 Maart en 22 Junie gesteel is. Dit sluit in 4 480 skape, 700 bokke, 411 beeste en 45 perde. Die waarde van dié diere is ongeveer R17 miljoen.

DA-leiers in die provinsie skryf dié toename toe aan plaaspatrollies wat nie toegelaat is om tydens afsondering te patrolleer nie. “Die departement het te kenne gegee dat daar tydens Desember en Januarie ʼn afname in veediefstal in die provinsie was. Dit is toegeskryf aan ʼn multidissiplinêre benadering wat patrollies op plase insluit,” sê Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder vir veiligheid en sekuriteit in die Oos-Kaap.

Die polisie se misdaadstatistieke, wat verlede week uitgereik is, wys dat veediefstal in die Oos-Kaap tussen 2018 en 2019 met 1% toegeneem het, terwyl dit landwyd met 4,2% afgeneem het.

Gedurende die vorige boekjaar is altesaam 6 800 gevalle van veediefstal landwyd aangemeld. Agt uit die tien polisiestasies waar die meeste van dié gevalle aangemeld is, is in Oos-Kaap geleë.

“Ons landbousektor is reeds onder enorme druk weens die voortslepende droogte. Dit is noodsaaklik dat die verlies aan vee weens diefstal gestop word indien ons boere se lewensbestaan wil beskerm en voedselsekerheid in die provinsie verseker,” sê Stevenson.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae