Miljoene rande skade aan skole ná Wes-Kaap-storm

‘n Boom wat omgeval het in Kaapstad (7 Junie 2017). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Altesaam 170 skole is beskadig deur die storm wat die Wes-Kaap vroeër vandeesmaand getref het, terwyl twee skole deur die brand in die Suid-Kaap beskadig is.

Debbie Schäfer, provinsiale LUR vir onderwys, het gesê die skade aan die skole beloop ongeveer R124 miljoen.

Maroela Media het vroeër berig die Wes-Kaapse departement van onderwys het besluit om alle skole in die provinsie op 7 Junie vir die dag te sluit nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ʼn waarskuwing uitgereik het dat swaar reënval met stormsterk winde en moontlike oorstromings vir daardie dag verwag is. Die departement het destyds gesê die besluit om die skole te sluit is in belang van leerders en personeel se veiligheid geneem.

Die storm wat die Wes-Kaap getref het en die reusebrand wat terselfdertyd in Knysna gewoed het, het lewens geëis en talle mense is beseer. Volgens Schäfer is 102 skole se dakke beskadig, terwyl 27 skole se heinings beskadig is. Die storm het ook strukturele skade aan 14 skole aangerig en vier mobiele klaskamers is beskadig. “Skole het ook ander skade, waaronder brandskade, bome wat ontwortel is en skade aan elektriese komponente aangemeld,” het Schäfer gesê.

Skade wat deur die storm aangerig is (7 Junie 2017). Foto: Twitter via @Juany271

Sy het gesê die geraamde R124 miljoen-skade is nie ʼn finale beraming nie, aangesien sommige skole steeds deur beamptes van die departemente van onderwys en van vervoer en openbare werke besoek word wat tans ʼn behoorlike assessering van die skade saamstel. “Soos die skade by die Veilige Skole-direktoraat aangemeld is, het die departement onmiddellik inspekteurs uitgestuur om die persele te besoek en die skade te evalueer. Ons prioriteit was om die skole so gou moontlik weer in werking te stel,” het Schäfer gesê.

Sy het gesê by 55 van die skole wat besoek is, is die skade onmiddellik herstel sodat die skoolbedrywighede dadelik weer kon voortgaan. Intussen is daar reeds kontrakteurs aangestel om die skade by 27 skole te herstel, terwyl die departement die vier mobiele klaskamers tans herstel of vervang. Altesaam 13 skole is geleë op gehuurde persele en die onderskeie eienaars van die persele is versoek om die nodige herstelwerk te laat doen.

Skade wat deur die storm aangerig is (7 Junie 2017). Foto: Cindy Waxa/ANA

Beamptes van die twee departemente vergader elke derde dag om die vordering van die herstelwerk te bepaal en verdere strategieë te bespreek.

“In sommige gevalle waar daar slegs geringe skade is of die skade nie die onderrigbedrywighede by die skool ontwrig nie, is die skool aangeraai om hul Norme en Standaarde-finansiering te gebruik om die nodige herstelwerk te doen,” het Schäfer gesê. “ʼn Hele aantal korporatiewe skenkers het aangedui hulle is bereid om met die herstelwerk te help en hieroor is ons baie dankbaar. Ons bepaal ook waar hul ondersteuning die meeste benodig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Ek wonder hoeveel van die geld wat bewillig is vir herstelwerk aan skole is al gesteel en of die kontrakteurs betaal sal word.

SARIE VAN HEERDEN ·

Los die herbouing of reparasies aan skole na die Kaapse brande. Sodra alles opgebou is gaan hul weer kom met eise, toi toi en alles weer vernietig omdat nie aan nuwe eise voldoen word nie. Ons dra kennis van al die skole wat hul afgebrand het en ons met belastinggeld moes herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.