‘Miljoene rande skade’ ná verwoestende brande

Die skade nadat brande op 22 Augustus 2017 in die Nigel-omgewing in Gauteng gewoed het. Foto: Facebook

Duisende hektaar veld en landerye is verwoes en boere het miljoene rande skade gely nadat veldbrande in die Nigel-omgewing in Gauteng Dinsdag buite beheer gewoed het.

Johann Pistorius, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het Donderdag aan Maroela Media gesê die vlamme het teen ʼn verstommende snelheid versprei en oor groot stukke veld en talle plase versprei ondanks pogings om dit te keer.

“Daar is nog geen duidelikheid oor waar die brand ontstaan het nie. Gerugte doen die ronde dat mense langs die R42 tussen Nigel en Heidelberg kos gemaak het en dat die brand daar ontstaan het, maar dit is geensins bevestig nie,” het Pistorius gesê. “Die wind wat Dinsdag gewaai het, was besonder sterk. Die vlamme het net so vinnig versprei, niemand kon dit regtig keer nie. Dit het oor al die voorbrande en brandpaaie, selfs oor die snelweg gespring en net aanhou voortstu.”

Die skade nadat brande op 22 Augustus 2017 in die Nigel-omgewing in Gauteng gewoed het. Foto: Facebook

Pistorius het gesê hy verneem een mens het in die brand gesterf en ʼn paar mense is beseer. “Ek weet van een man wat glo 65% brandwonde opgedoen het nadat hy deur die vlamme in sy bakkie vasgekeer is,” het hy gesê.

“Minstens drie huise het afgebrand. Een boer het twee trekkers verloor en die lapa by sy huis het afgebrand. Daar is ʼn vrou wat 2 000 bale verloor het. Nog ʼn boer het 40 stoetkoeie wat óf doodgebrand het óf nou geslag moet word, asook 40 skape verloor.”

Die Nigel Heraut berig ʼn plaaslike boer, Jan du Rand, se huis op sy plaas Uitsig het afgebrand. Hy het aan die koerant gesê hy het miljoene rande skade gely weens die brand.

Volgens Pistorius is dit nie duidelik tot waar die brande versprei het nie, maar hy verneem dit was tot by Kinross in Mpumalanga. Dit is nog nie moontlik om te sê wat die presiese omvang van die skade is nie, maar dit is beslis “duisende hektaar” wat vernietig is. “Die vuur is nou grootliks geblus. Ek sien daar is plekke waar dit weer begin opvlam. Dit gebeur op plekke waar die bome en veld nog smeul en die wind laat dit weer opvlam. Maar dit is nou in bedwang.”

Die skade nadat brande op 22 Augustus 2017 in die Nigel-omgewing in Gauteng gewoed het. Foto: Johann Pistorius

Stephen Boyes, algemene bestuurder van Working on Fire in Gauteng, het gesê Augustus tot vroeg November is ʼn kritieke tydperk vir die brandseisoen. “Die klimaattoestande in hierdie tyd is droog, winderig en warm. Dit is ʼn goeie resep vir ʼn veldbrand om te begin en buite beheer te raak. Ons doen ʼn beroep op grondeienaars om paraat te wees,” het Boyes gesê.

Parapara Makgahlela, provinsiale woordvoerder van Working on Fire, het gesê hul brandbestrydingspanne is Maandag en Dinsdag na minstens nege verskillende brande in Gauteng ontbied.

Pistorius het gesê ʼn rampfonds is op die been gebring om mense wat weens die brande in die Nigel- en Heidelberg-omgewing skade gely het by te staan. Daar is reeds 1 000 grasbale aan die gemeenskap geskenk en ander instansies het ook aangedui dat hulle graag wil help. Meer inligting oor die rampfonds kan op die Hulp vir brand slagoffers Nigel en omliggende omgewing-blad op Facebook gevind word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre van der bank. ·

Sterkte aan julle wat alreeds gebuk gaan onder droogtes, en nou ook hierdie treurspel moet verwerk. Sterkte.

Theresa B ·

Ja jy kan maar net dink wat jy wil hieroor……………………………………

TDW ·

Woordvoerder Parapara…?
Jammer ek kon nie help nie. Ek weet hierdie is verskriklik.

Karma ·

@TDW, toemaar – ek het presies dieselfde gedink …….. Hê-hê-hê; ‘either’ dié ou se pa wat hom loop registreer het, het ‘n sin vir humor gehad, of hy kon nie spel nie, net soos die een wie se naam Unknown was (daar was so ‘n grappie ‘n ruk terug ……).

Nita ·

Verskroeide aarde beleid? Lei die volk op oor oop vure maak. Hoe om n veilige spasie te skep om n oop vuur. Maar natuurlik is daar diegene wat net daarvan hou om vlamme en verwoesting te sien. Die sulkes sal altyd met ons wees.
Hulle het geen begrip van die gevolge van die dade nie en hoe die land se ekonomie benadeel word nie.

Francois du Plessis ·

1000 bale wat geskenk is?
Vier van die tien foto’s in die betrokke artikel, is op my plaas geneem (ñ aanduiding dat ons net so hart getref is deur die brand), maar sover was ek en my bure verplig om self planne te maak, om voer te bekom.

Wie is “Working on Fire”? In al die jare het ek nog nie een van hulle ontmoed nie, wat nog help brande blus.

Nigel Boere Unie ·

Francois, daar is beloftes vir 1000 bale voer. Baie van die bale is beskikbaar vir die geaffekteerde party om self te gaan laai by die skenker. Jy kan tog seker insien dat 1000 bale voer nie net uit die lug val en daar beland waar dit nodig is nie.
Ons is bewus van julle skade en die ernstige beserings aan julle diere.
Maak asb kontak met die Voorsitter van die Nigel Boere Unie of hoof van die Nood en Ramp Vereeniging en rapporteer jou behoeftes aan hulle sodat jy kan uitvind waar om voer te kry.
Sterkte vir julle.

THEA SWART ·

hoekom kom dit vir my voor asof daar doelbewus op ons groot boere gemik is met hierdie brande – as hulle nie grond kan kry nie brand af – of lees ek iets erens mis?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.