Miljoene rande vir sentrums vir vroeë kinderontwikkeling

Sentrums vir vroeë kinderontwikkeling is swaar getref deur die Covid-19-pandemie en die afsonderingsmaatreëls. (Foto: Maroela Media)

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het R496 miljoen ontvang as deel van ʼn stimuluspakket om sentrums vir vroeë kinderontwikkeling by te staan. Dié sentrums is swaar getref deur die Covid-19-pandemie en die afsonderingsmaatreëls wat daarna ingestel is.

Die departement sê die hulppakket moet werkgeleenthede in die sektor skep en help beskerm in die lig van die hoë werkloosheidsyfers en werksverliese wat deur die pandemie veroorsaak is.

Die departement het die plan aan die nasionale tesourie voorgelê om toegang te kry tot finansiering ingevolge die presidensiële indiensnemingstimuluspakket vir die sektor. Dit het gefokus op onder meer die beskerming van werkgeleenthede, werkskepping, pogings om Covid-19-infeksies te stuit en die registrasie van programme.

Volgens die departement gaan die pakket die sentrums in ʼn beter posisie plaas om die pandemie te oorleef omdat dit kan help om uitgawes, waaronder salarisse, te dek.

Sentrums vir vroeë kinderontwikkeling kan aansoek doen vir finansiering; individuele werkers egter nié.

“Met ander woorde, sentrums doen namens hul personeel aansoek. Werkers wat kwalifiseer sluit in diegene wat die sentrums bedryf, kokke, administrateurs en alle ander werkers,” lui ʼn verklaring van die departement.

Die sentrums kan net die geld gebruik om bestaande personeel te help betaal en net een aansoek per sentrum mag ingedien word.

Sentrums wat nie in hierdie stadium bedryf word nie – wat dus weens die Covid-19-pandemie gesluit het en nog nie weer heropen het nie – moet ʼn onderneming gee dat hulle binne 60 dae nadat hulle die geld ontvang het, sal heropen.

“Dit word vereis omdat die hulppakket die voortsetting van dienste in die bedryf moet verseker.”

ʼn Maksimum van tot R4 470 per werkers sal eenmalig aan ʼn werker betaal word. Daar is ook ʼn beperking op die getal werkers waarvoor ʼn sentrum ingevolge die program mag aansoek doen.

Die departement sê as die aansoeke minder of meer is as die begroting, kan hy moontlik die bedrae dienooreenkomstig aanpas.

Sentrums wat nie in hierdie stadium finansiering van provinsiale departemente van maatskaplike ontwikkeling ontvang nie, moet eers op ʼn sentrale databasis registreer. Dié registrasienommer word benodig om aansoek te doen vir hulp.

Aansoeke het vandag geopen en sluit reeds oor twee weke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.