Miljoene se heroïen uitgesnuffel

Foto ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Drie verdagtes is net buite Nelspruit in hegtenis geneem nadat hulle glo met heroïen ter waarde van miljoene rande in hul besit gevind is.

Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê twee mans, onderskeidelik 25 en 39 jaar oud, asook ʼn 27-jarige vrou is deur die blitspatrollie by Kanyamazane-stadion aan die buitewyke van Nelspruit vasgetrek.

Die drie het in ʼn Ford Eco Boost by dié stadion gesit toe beamptes hulle nader. Die motor wat hulle gebruik het, is deursoek en drie sakke vol dwelms is gevind. Een sak was op die bestuurder se sitplek en twee onder die passasier se sitplek.

Die dwelms is getoets en die polisie se honde-eenheid het bevestig dat dit wel heroïen is. Dié drie sakke het ʼn geskatte waarde van R2 550 000.

“Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Kanyamazane-landdroshof verskyn.”

Lt.genl. Semakaleng Manamela, provinsiale kommissaris van Mpumalanga, het haar kommer oor die dwelmhandelbedryf in Suid-Afrika uitgespreek.

“Die drie verdagtes het bygedra om die jeug van Suid-Afrika van dwelms te voorsien. Terwyl dwelms ons toekomstige leiers se lewe verwoes, leef misdadigers soos dié in weelde,” het Manamela gesê.

“Nietemin is ek verheug dat ons beamptes hulle kon vastrek, asook beslag lê op die dwelms voordat dit in die verkeerde hande beland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek hoop hulle sit lank en die sleutels word weg gegooi! Ek kon nog nooit verstaan hoe gooi iemand hul lewe weg vir drugs nie werklik

Boon ·

Die dwelmbedryf finansier misdaad. By eniige onwettige gedrag is die onwettige Handel in dwelms betrokke. Die strawwe in SA is veels te lig vir die HANDEL in dwelms. Dis op dieselfde vlak as moord, dis net stadig moord van derduisende mense. En dit begin altyd by onskuldige jongmense as pret.

Magda G ·

Moet geen borgtog gee nie en Sluit hulle lank toe. Dwelms verwoes soveel mense se lewens

Deon ·

Dis goed!!! Trap hulle vas!!! Hoeveel is reeds onder die mense versprei

Elinette ·

Die dwelms is gekonfiskeer voor dit “in die verkeerde hande” beland het. Ek wonder nogal. Wat raak nou daarvan, behalwe dat dit as getuienis in die saak voorgehou word? Oor ‘n paar maande, as die saak afgehandel is, wat word van daardie dwelm-vonds? Word dit vernietig of …e… word dit maar net weer deur die een of ander korrupte SAPD-beampte …e… her-versprei, met – natuurlik – geldelike bevoordeling daarby?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.