Miljoene se opknappings kom in Krugerwildtuin

‘n Voormalige werker van SANParke is onder die stropers. (Argieffoto ter illustrasie: Wikimedia)

Altesaam R370 miljoen is toegeken vir die opknapping van die Kruger Nasionale Park oor die volgende drie jaar.

Hoewel die wildtuin al lankal dié opknappings beplan het, het die afname in toeriste-inkomste weens die Covid-19-pandemie dié planne nou bespoedig ten einde meer toeriste te lok.

Volgens Isaac Phaahla, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), word die opknappings hoofsaaklik befonds deur ’n infrastruktuurontwikkelingsprogram wat deur die departement van bosbou, visserye en omgewing gefinansier word.

Geldelike bydraes is ook van versekeraars en die nasionale departement van toerisme afkomstig.

Gareth Coleman, besturende uitvoerende hoof van die Krugerwildtuin, het aangedui dat die eerste fase van die program belangrike stukrag sal gee om infrastruktuur op te gradeer en besoekerservaring te verbeter.

“Die afname in toeriste weens die Covid-19-pandemie het ons inkomste beïnvloed, maar die behoefte om ons infrastruktuur te onderhou en op te gradeer is altyd teenwoordig. Die infrastruktuurprogram sal ook help om broodnodige werk in die gebied te verskaf,” sê Coleman.

Kontrakte en werkpakkette word tans gefinaliseer en volgens Coleman behoort dit teen die einde van Mei afgehandel te wees.

“Kontrakteurs sal gedurende Mei en Junie ter plaatse verhuis sodat die bouwerk kan begin.”

Opknappings en opgraderings sal by meer as 110 toeriste‑akkommodasie-eenhede by kampe reg oor die park plaasvind en ook die volgende fasiliteite insluit:

  • Letaba-winkel en -heining
  • Onder‑Sabie-vulstasie
  • Shingwedzi-hoofgebou
  • Phalaborwa Wildlife Activity Hub
  • Shangoni-fasiliteit (wat ’n piekniekplek, kampeerterrein en Shangoni-ontvangsfasiliteit insluit)
  • Punda Maria-tente
  • Sweni Trails‑kamp
  • Ingangshekke by Pafuri, Punda Maria, Orpen, Phabeni en Numbi
  • Skukuza-kamp
  • Restaurantuitkykdek en leunings by die Olifantskamp

Die Letaba-winkel en -heining en Onder‑Sabie-vulstasie is in brande verwoes terwyl die Shingwedzi-hoofgebou, Skukuza-kamp en Olifantskamp deur termiete geraak is.

Fondse is ook bewillig vir die opgradering van geselekteerde personeelverblyf, en die opknap van geïdentifiseerde teer- en grondpaaie.

Verdere projekte sal in 2023 van stapel gestuur word.

Volgens Coleman sal die wildtuin se bestuur sy bes doen om die impak op besoekers se ervaring tot die minimum te beperk. “Ons vra wel geduld en begrip van ons klante gedurende die opknappingstydperk vir enige ongerief wat veroorsaak word.

“Ons wil ook besoekers versoek om kennis te neem van bykomende naamborde wat op die geraakte plekke geplaas is en kennis te neem van die advies van ons personeellede.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Bernard

Onthou die vrot stortdeur by Punda se hut Nr 5!

Fran

Mens wonder altyd of die fondse daar gaan uitkom. Daar staan klaar ‘n paar stink vingers en wag vir die geld.

Marius

Dit is hoog tyd. Ons betaal hoë tariewe vir akkommodasie wat in ‘n staat van verval is. Ek hoop die onnet en onversorgde kampeer terreine, gemeenskaplike kombuise en ablusieblokke gaan ook opgeknap word.

Johan

Dis nodig en verblydend! Toe ons onlangs in die Krugerwildtuin was was die verval van infrastruktuur opvallend en kommerwekkend. Veral teerpaaie sal aandag moet geniet omdat daar geen teken van onderhoud en instandhouding te sien is nie. Boomwortels en gras lig oral teeroppervlakke op en dan verkrummel dit baie vinnig. Wat ‘n ontstellende jammerte!

Niklaas

Laat ons maar hoop die fondse word op ‘n eerlike manier en verantwoordelik spandeer. Ons sien maar deesdae baie gevalle waar groot somme geld in die verkeerde hande beland . Dan is dit een Bieeeg Problem.