Miljoene se skade toe trekkers in Kirkwood brand

Hannes Joubert van die Habata-boerdery. (Foto: GroundUp)

’n Sitrusboer van Kirkwood in die Oos-Kaap vermoed sy skade miljoene rand nadat meer as ’n duisend betogende sitruswerkers die afgelope week op sy boerdery in die omgewing van Kirkwood toegeslaan het.

Verskeie vragmotors en trekkers in ʼn stoor op die plaas van Hannes Joubert van die Habata-boerdery in die Sondagsriviervallei-munisipaliteit is aan die brand gesteek.

Sy plaasbestuurder se huis op die plaas is tot op die grond afgebrand en geplunder terwyl groot skade aan besproeiingstelsel en vrugteboorde en veiligheidsdrade aangerig is.

Die polisie is ontbied maar “hulle was te dun,” sê Joubert.

Die hulp van ’n veiligheidsmaatskappy is ook noodgedwonge ingeroep om te help red wat daar te redde is. Een van die veiligheidsbeamptes het egter in die proses ’n hou met ’n klip teen die kop weg. Hy moet nou na verwagting ʼn operasie ondergaan.

Die hooggeregshof in Gqeberha het intussen ʼn tussentydse interdik aan plaaseienaars, onder wie Joubert, in die Sondagsriviervallei-munisipaliteit toegestaan.

Die interdik verhoed betogende plaaswerkers en leiers van die burgerregtegroep die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerorganisasie (Sanco) om die plase binne te gaan of binne 500 meter van die plase af te kom.

“Ons volg nou die regsroete omdat ons wetgehoorsame landsburgers is. Dit vrywaar jou egter nie van skade nie. Net gister het meer as 1 000 betogers op een van my plase toegesak.”

Intussen staan die Habata-boerdery al byna ’n week lank stil. “Die hele vallei staan stil. Die dorp is toe.”

Joubert doen nou ’n beroep op sy plaaswerkers, van wie ’n klein persentasie self aan die betoging deelneem, om terug te keer werk toe sodat “ons die stukke kan optel” en aandag kan gee aan die probleem in die werkplek.

“Dit is in ons almal se belang.”

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig ’n sogenaamde “wegbreekgroep” vir sitruswerkers eis met die ondersteuning van Sanco betaling van R30 per uur en ’n voorsorgfonds. Die minimumloon is tans R23,19.

Ook Joubert meen dié eis is buitensporig en hoegenaamd nie haalbaar nie. “En R23,19 is net die minimumloon. Produktiewe werkers verdien veel meer as dit.”

Dr. Hennie Ehlers, die sitruskwekersvereniging se direkteur in die Sondagsriviervallei, het op sy beurt aan Maroela Media gesê hy nie kan verstaan waar hierdie eise vandaan kom nie. “Ons het aan die begin van die seisoen werkers teen die minimumloon van R23,19 in diens geneem en kontrakte geteken en die induksie-proses deurgegaan.

“Boere het volgens wetgewing wat 1 Maart afgekondig is, die minimumloon met 7% verhoog. “

Volgens Joubert het die minimumloon in die afgelope twee jaar “met iets soos 23%” gestyg.

“Ons bedryf is in ’n baie moeilike situasie weens swak uitvoere. Verlede jaar was ’n katastrofiese jaar vir ons gewees.”

Hannes de Waal, uitvoerende hoof van die Sondagsrivier-sitrusmaatskappy (SRCC), het vroeër vandeesweek gesê die probleme in die sitrusbedryf strek wyd. “Ons het veral baie probleme wat spruit uit die oorlog in Oekraïne. Daar is ’n groot persentasie van ons vrugte waarvoor daar nie nou ’n mark gaan wees nie. Intussen sit ons met verskepingskoste wat in die laaste twee jaar verdubbel het.”

Joubert, wat al die afgelope 44 jaar in die sitrusbedryf betrokke is, sê sitrusboere maak dit hul missie om werk te verskaf en die gemeenskap te bemagtig.

“Ons het meer as 1 000 werkers in diens regoor die vallei. Wat nou aan die gebeur is, is baie sleg vir die vallei maar ook die Oos-Kaap. Dit lyk of daar nie meer ‘rule of law’ is nie. Dit is onaanvaarbaar.”

Lees Maroela Media se vorige berig oor die onluste in die omgewing van Kirkwood hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Groen Ghoen ·

Waarvan gaan ons lewe wanneer alles afgebrand en vernietig is? O ja… van Staatstoelaes. In laaaaang rye staan by die klinieke en die poskantoor. Lekker, man lekker! Viva ANC! Viva!

Jubba ·

As daar nog n poskantoor gaan wees, ons poskantoor is reeds toegemaak weens tekort aan fondse en dienslewering. Viva cANCer! Viva!

Corrie ·

Die mense soek werk en bid om dit nie te kry nie.
Die groot probleem is die unies. Hulle soek lede en gevolglik maak onrealistiese beloftes aan werkers en stel dan die boere en die werkers se bestaan in gevaar.

Mrs H ·

Laat weet ons ‘Jan Allerman Publiek’, of ons direk by plase en boere produkte kan koop, ons sal graag ondersteun en die middelman of vervoer en verskeping onkostes vir jul boere verlig. Bring die mark na jul plase toe, dit sal ook meer bekostigbaar vir n sukkelende algemene publiek wees.

Mariana ·

Die mense word voorgepraat en so ly almal daaronder. As plase nou tot niet raak is daar glad nie meer werk maar die opstokers hol dan weg en los die spul om vir hulself te sorg. Hulle kan bly wees hulle kry nog ‘n salaris.

Nick ·

Gaan nie lank neem om agter te kom dat die eff agter die opstokery sit nie. Hulle gaan regoor die land opstook en rassisme aanwakker. Hulle kan nie voortbestaan as Suid Afrikaners saamstaan nie.

Anel ·

Nou wonder ek hoe wil hulle R30. 00 ‘n uur kry? Die skade moet mos nou eers herstel word, met die geld wat hulle sou kry. En waar gaan die kos vandaan kom as alles afgebrand is? Dankie, ANC!!!

LANA is ELANè ·

Hierdie regering staan redelik koud teenoor ons land se boere, hierdie is die 1ste berig wat ek lees op hoofstroommedia, dit haal nie eers TV nuus nie.
Dit is veel belangriker om almal se vrees op te jaag met die sg C19 gogga maak vir baba bang, en almal moet tog net gaan vir hul booster clot shot of die erns besef en hardloop vir nr 1.
Georganiseerde misdaad vanaf die regering word geignoreer, waarom? ñ Maklike manier om boere van hul grond te verdryf deur rampokkers, en dit dan loongeskille te noem terwyl die patetiese SAPS staan en toekyk, so reg in die cANCer regime se kraal!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.