Miljoene se spoorwegstawe gevind

(Foto: Verskaf)

Drie verdagtes tussen die ouderdomme van 41 en 51 is Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 op die N4-pad naby Middelburg in hegtenis geneem ná hulle met ’n vragmotor vol vermoedelik gesteelde spoorwegstawe ter waarde van sowat R3 miljoen betrap is.

Volgens brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, werk die polisie hard om die uitdaging van skade aan noodsaaklike infrastruktuur sowel as die diefstal van waardevolle spoorwegitems te pak.

“Die Mpumalanga‑ provinsiale teenbende-eenheid van die polisie is met die verantwoordelikheid getaak om te help om hierdie uitdaging hok te slaan.

“As gevolg van die span se vasberadenheid, het samewerking met lede van die publiek en in hierdie geval lede van die Middelburgse hoofwegpatrollie, ook ’n rol gespeel, wat gelei het tot die deurbraak,” sê Mohlala.

Die spoorwegstawe is glo verlede maand iewers by Barberton in die Ehlanzeni-distrik gesteel.

“Nadat ’n ondersoek gedoen is, het die polisie waardevolle inligting oor die saak ingesamel en opgevolg wat tot die opsporing van die vermoedelik gesteelde spoorwegstawe gelei het.”

Die polisie het op die vragmotor met sy besending sowel as ander items vir verdere ondersoek beslag gelê, waarna die trio vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in hegtenis geneem is.

“Die verdagtes was ook moontlik betrokke by die diefstal van spoorwegvragmotors in die Ehlanzeni-distrik,” sê Mohlala.

“Die polisie werk saam met die departement van binnelandse sake nadat hulle verneem het dat al drie verdagtes buitelandse burgers is, van wie twee – Mosambiekse burgers – nie die geldige dokumente het nie. Hulle sal vir oortreding van die Immigrasiewet van Suid-Afrika aangekla word.”

Die derde verdagte – met geldige dokumente – is ’n Zimbabwiese burger.

Die drie sal na verwagting Donderdag in die Middelburg-landdroshof verskyn.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, die provinsiale kommissaris in Mpumalanga, het die polisie vir hulle deurbraak bedank.

“Ons is verheug oor hierdie groot prestasie. Ons is oortuig dat die verdagtes moontlik betrokke was by ander soortgelyke oortredings wat voorheen gepleeg is. Die skade aan noodsaaklike infrastruktuur is ’n doring in die vlees, maar ons doen ons bes om dit te pak.”

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gerhard ·

Is die stawe 4m lank gesny?
Waar is die 16 wat die Valke laas jaar in Witbank arresteer het?
Het kilometer se ou stawe by Dullstroom op gesny en gelaai… selfde sindikaat smaak my

Anel ·

Kla hulle sommer aan van terorisme! Hulle is buitelanders, onwettig en dan kom pleeg hulle ‘n misdaad wat ONS infrakstruteur beskadig en tot lewensverlies kan lei!! Gaan doen so iets in hulle lande!!!

Chris dupreez ·

Ek wil graag weet waar gaan hulle met dit heen. Waar verkoop hulle dit, wie koop dit.

Niklaas ·

Daardie vraag kan maar onbeantwoord bly. Sindikate van donker magte beskerm die kopers van hierdie staal.

Shakespeare ·

Gearresteer, en verder ????? Saak uitgegooi agv klagstaat wat vol foute is. O my niere !!! That’s how they run !!!

Oosieoos ·

Weer eens die cANCer se skuld mos die grense vir almal oopgegooi

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.