Miljoene se staatsgeld vir Vryheidspark; niks vir Voortrekkermonument  

Vryheidspark kry miljoene rande se staatstoelae. (Foto: Facebook / Freedom Park)

Geld kan maar een maal nie geluk (of lojale ondersteuners) koop nie. Wat dit wel kan koop, is ʼn R700 000 se Mercedes-Benz met ʼn persoonlike bestuurder.

Dít is glo presies waarop Jane Mufamadi, uitvoerende hoof van Vryheidspark, die staatsgeld van getroue belastingbetalers bestee, aldus ʼn ondersoekende artikel deur Daily Maverick.

Vryheidspark kry immers R147 miljoen se staatstoelae en subsidies, teenoor die Voortrekkermonument wat nie een enkele sent van die Suid-Afrikaanse regering ontvang nie.

Twee Pretoriase erfenisterreine, maar met twee uitlopende begrotings (en oënskynlik ook bestuurstyle).

Die Voortrekkermonument. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Tog lyk dit asof die Voortrekkermonument, wat hom vir die behoud van Afrikanererfenis en -kultuur beywer, voortdurend op eie stoom vorentoe beur, terwyl die besteding – of beweerde verkwisting – van staatsgeld deur Vryheidspark al meer wenkbroue laat lig.

Veronica van Dyk, DA-verteenwoordiger in die portefeuljekomitee vir sport, kuns en kultuur, het reeds amptelike vrae aan die komitee en parlement gerig oor die stand van sake by Vryheidspark.

Dit lyk boonop nie of staatsgeld aangewend word om besoekers na Vryheidspark te lok nie, aangesien daar in die huidige finansiële jaar net 30 676 besoekers was, teenoor die 50 000 wat die Voortrekkermonument net tussen Januarie en Oktober besoek het. Dié syfer sluit besoekers aan feeste en markte uit.

Luidens die 2022-’23-jaarverslag van Vryheidspark, ʼn erfenisterrein en -museum wat slagoffers gedenk wat tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorlog asook in die apartheidsjare gesterf het, is ʼn begroting van R91,6 miljoen goedgekeur. Twee derdes van hierdie begroting (R58,3 miljoen) word aan salarisse bestee.

Mufamadi verdien R2,5 miljoen per jaar terwyl haar vier topbestuurders gesamentlik salarisse van R4,8 miljoen per jaar kry. Dit beteken dat belastingbetalers R7,3 miljoen rand opdok vir die salarisse van dié vyf amptenare – ʼn derde van die Voortrekkermonument se algehele begroting.

Jane Mufamadi, uitvoerende hoof van Vryheidspark. (Foto: Facebook / Jane Mufamadi)

Boonop wou Nathi Mthethwa, voormalige minister van sport, kuns en kultuur, nog R22 miljoen spandeer het om ʼn reusevlagpaal by dié park op te rig – ʼn projek wat uiteindelik ná hewige teenkanting gestaak is.

Verder is dit ook nie net Vryheidspark se bestuurslede wat klaarblyklik ʼn stewige bankbalans het nie, maar ook sy direkteure.

Die jaarverslag dui aan dat tien van die 11 direkteure gesamentlik R1, 014 in die 2022-’23-boekjaar ontvang het. Daarteenoor kry die Voortrekkermonument se direkteure geen vergoeding nie.

Vryheidspark het in die laaste jaar ʼn gekwalifiseerde oudit ontvang, waarin begrotingsbedrae verkeerdelik aangebied is met die waarde van R20,57 miljoen.

“Dit beteken op ʼn begroting van R91,6 miljoen is daar ʼn totaal van R57,75 miljoen rand se berekening- en rapporteringfoute begaan,” het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, gesê.

“Op die begroting van R91,6 miljoen is die uitgawes R53,6 miljoen meer as die totale begroting, wat die totale uitgawes op ʼn astronomiese R145,2 miljoen te staan bring.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die VTM. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Langner meen dié syfers bevestig dat die staat geensins in die bewaring van erfenis en geskiedenis belangstel nie, maar eerder die sakke van sekere persone en instansies met belastingbetalers se geld volstop.

“Daar is ʼn algehele verval in die bewaring van erfenis in ons land. Die staat het eenvoudig nie die wil om die erfenis van alle kultuurgroepe te bewaar nie. Dus is dit organisasies soos die Voortrekkermonument, FAK en die Erfenisstigting se verantwoordelikheid om ons Afrikanererfenis te bewaar.

“Die monument kry geen staatstoelaag nie. Dus is dit nodig vir ons om innoverend te dink om die deure van ons Afrikanerbaken van hoop oop te hou. Dié sou glad nie moontlik gewees het sonder die deelname van die gemeenskap nie. Elke persoon wat bydra tot ons kultuurtuiste is ʼn erfenisbewaarder en ambassadeur van die Voortrekkermonument.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Jan Jacobs ·

Wie besoek die groot lieg park net buitelandse toeriste

Manie ·

Hou die regering se hande van die Voortrekker monument af, want dit sal oornag in plakker akkommodasie verander.

Kokerboom ·

Hierdie artikel laat my ROOI sien. Blatante rassisme en diskriminasie! Dan hou ons aan belasting betaal!!!!!Ek moes net my uiterste frustrasie hie lug! Wat gaan ons hieromtrent doen?

Andre ·

…die kaders is nou al só gewoond om weg te kom met alles, dat hulle nie eers meer probeer subtiel wees nie!

Lettie ·

Ons sal self sorg vir ons erfenis. Tyd loop uit. Mag die Here met ons wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit krap. Maar die staat se geldjies is besig om op te droog. Dan is die vrou ook werkloos.

Peter ·

want dis die 30%ers, nee eerder 10%ers wat alles verwoes, ons wag…

Cassie Carstens ·

Skokkend is nie ‘n woord hiervoor nie. So rassisme is heel springlewendig in die regering wat my belasting geld mors net soos hulle wil. Nee, o siesa!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.