Die Reserwebank het Sahara Computers ingelig dat hy beslag lê op miljoene rande van die maatskappy wat in ʼn Nedbank-rekening gehou word.
Sahara Computers is een van die maatskappye wat aan die omstrede Gupta-familie behoort.
Kuben Naidoo, adjunkpresident van die Reserwebank, gee die maatskappy in die Staatskoerant kennis van die besluit om altesame R19,6 miljoen aan die staat verbeurd te laat verklaar.
“Die datum waarop die geld … aan die staat verbeurd verklaar word, is die datum waarop die kennisgewing in die Staatskoerant verskyn,” lui die kennisgewing.
Die kennisgewing het Dinsdag verskyn.
Dit lui voorts dat die geld in die nasionale inkomstefonds betaal sal word.
Volgens die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye (CIPC) is Sahara Computers in 1997 geregistreer.
Business Insider berig die Indies gebore Atul Gupta het Sahara Computers in 1994 op die been gebring, kort nadat hy in Suid-Afrika aangekom het. Sy broers Ajay en Rajesh het daarna by hom aangesluit.
Oudpres. Jacob Zuma se seun, Duduzane, en dié se tweelingsuster, Duduzile, was luidens berigte in ʼn stadium ook direkteure van die maatskappy.
Die Guptas het in April 2016 uit Suid-Afrika gevlug, te midde van talle bewerings van hul betrokkenheid by staatskaping tydens Zuma se termyn as president. Hulle is beskuldig daarvan dat hulle hul vriendskap met Zuma misbruik het om hul sakke met staatstenders vol te stop en dat hulle selfs insae in ministeriële aanstellings gehad het.
Die Guptas ontken enige bewerings van ongerymdhede.
Zuma het self in 2018 sy amp neergelê.
Sahara Computers het dieselfde jaar sy deure finaal gesluit en die perseel in Midrand van waar hy sake gedoen het, is vir R50 miljoen te koop aangebied.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
14 Kommentare
Slim het sy baas gevang! Die Guptas het in April 2016 uit Suid-Afrika gevlug – klomp lafaards!
Duduzane en Duduzile you must be joking
Een iets verstaan ek nog steeds nie: waarom heul met ‘n Indiër-familie? Indiërs in SA hoor gedurig wanneer hulle werk soek “sorry not black enough” en “geen werk vir jou want ons personeelsamestelling moet die nasionale demografie weerspieël”. Daar was al sulke gevalle waaroor selfs Solidariteit hofsake gemaak het. So wat maak die Guptas dan so spesiaal? Waarom nie heul met die Nkosi-of Khumalo-families nie?
Dek nie eers die rente nie
Daardie “miljoene” moes eintlik miljarde gewees het. Hulle gaan die 19 miljoen nie eens mis nie.