Miljoene van Guptas se Sahara Computers verbeurd verklaar

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Die Reserwebank het Sahara Computers ingelig dat hy beslag lê op miljoene rande van die maatskappy wat in ʼn Nedbank-rekening gehou word.

Sahara Computers is een van die maatskappye wat aan die omstrede Gupta-familie behoort.

Kuben Naidoo, adjunkpresident van die Reserwebank, gee die maatskappy in die Staatskoerant kennis van die besluit om altesame R19,6 miljoen aan die staat verbeurd te laat verklaar.

“Die datum waarop die geld … aan die staat verbeurd verklaar word, is die datum waarop die kennisgewing in die Staatskoerant verskyn,” lui die kennisgewing.

Die kennisgewing het Dinsdag verskyn.

Dit lui voorts dat die geld in die nasionale inkomstefonds betaal sal word.

Volgens die Kommissie vir Intellektuele Eiendom en Maatskappye (CIPC) is Sahara Computers in 1997 geregistreer.

Business Insider berig die Indies gebore Atul Gupta het Sahara Computers in 1994 op die been gebring, kort nadat hy in Suid-Afrika aangekom het. Sy broers Ajay en Rajesh het daarna by hom aangesluit.

Oudpres. Jacob Zuma se seun, Duduzane, en dié se tweelingsuster, Duduzile, was luidens berigte in ʼn stadium ook direkteure van die maatskappy.

Die Guptas het in April 2016 uit Suid-Afrika gevlug, te midde van talle bewerings van hul betrokkenheid by staatskaping tydens Zuma se termyn as president. Hulle is beskuldig daarvan dat hulle hul vriendskap met Zuma misbruik het om hul sakke met staatstenders vol te stop en dat hulle selfs insae in ministeriële aanstellings gehad het.

Die Guptas ontken enige bewerings van ongerymdhede.

Zuma het self in 2018 sy amp neergelê.

Sahara Computers het dieselfde jaar sy deure finaal gesluit en die perseel in Midrand van waar hy sake gedoen het, is vir R50 miljoen te koop aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

JohanR ·

Slim het sy baas gevang! Die Guptas het in April 2016 uit Suid-Afrika gevlug – klomp lafaards!

OW ·

Een van die Guptas is nog die laaste dag van Zuma se Presidentskap by ‘n kragsentrale in Mpumalanga opgemerk.Die volgende was hy skoonveld.Hulle hoort agter tralies.

Jaco ·

Een iets verstaan ek nog steeds nie: waarom heul met ‘n Indiër-familie? Indiërs in SA hoor gedurig wanneer hulle werk soek “sorry not black enough” en “geen werk vir jou want ons personeelsamestelling moet die nasionale demografie weerspieël”. Daar was al sulke gevalle waaroor selfs Solidariteit hofsake gemaak het. So wat maak die Guptas dan so spesiaal? Waarom nie heul met die Nkosi-of Khumalo-families nie?

Nie Verbaas ·

Wat maak Gupta’s spesiaal? Die finansiele voordeel wat dit vir ANC kaders ingehou het. Kleur maak dan nie saak nie.

OW ·

Die Guptas het op ‘n staduim vir Zuma gehelp met geld en hy wou hulle iets terug gee,maar het toe so verstrengel geraak in hulle,dat daar geen uitkom kan was nie en so het staatskaping begin.Die Cuptas het besluit wie moet hierdie en daardie ministers wees.Hulle is buitelanders waar die dollars behoorlik rol.Hoe hulle bevriend geword het sal mens nie weet nie.

Lourens CFG ·

Daardie “miljoene” moes eintlik miljarde gewees het. Hulle gaan die 19 miljoen nie eens mis nie.

Nie Verbaas ·

Guptas lag hulle as af oor die “verlies”. Hulle spandeer dit oor n naweek.

Charles ·

Druppel in die emmer, die skade wat die klomp aangerig het sal vir altyd staan.

Jack ·

Wonder of die geld die staat toekom. Het hy verloor of die publiek of die banke. Nou is daar n paar rand om skole te bou of hoe?

Lian ·

Dis net ‘n druppel in die emmer en die toerusting is al seker verouderd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.