Miljoene verdwyn uit gemeenskap se rekening; ondersoek duur voort

Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer Foto: Universiteit Stellenbosch (US)

Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), het Saterdag ʼn beroep op die Bapo-Ba-Mogale-gemeenskap in Brits, Noordwes, gedoen om binnegevegte te staak terwyl sy ondersoek instel na die beweerde plundering van die gemeenskap se bankrekening.

“Bedaar net, asseblief. Daar is geen rede om te baklei nie. Solank ons nie weet wie wat gedoen het nie, sal daar altyd agterdog wees,” het sy gesê.

Die gemeenskap het die OB in 2012 versoek om bewerings van geleidelike plundering van die gesamentlike hulpbronne van die gemeenskap te ondersoek, waaronder fondse wat in die sogenaamde “D-rekening” gehou is. Mynmaatskappye gebruik die rekening om tantieme aan die gemeenskap te betaal op wie se voorvaderlike grond hulle myn.

Madonsela is ook versoek om te ondersoek of al die tantieme wat aan die gemeenskap verskuldig is wel deur die mynmaatskappy, Lonmin, en ander besighede wat die grond gebruik aan die gemeenskap betaal is. Sy moes ook ondersoek instel na miljoene rande wat na bewering uit die rekening aangewend is om ʼn paleis vir die stamhoof, Kgosi Bob Mogale, te bou.

In afwagting op Madonsela se verslag rakende die ondersoek, het verskeie voorvalle van geweld in die gemeenskap opgevlam. Kgomotso Morare, een van die gemeenskapslede, het Saterdag aan Madonsela die letsels op sy kop gewys waar hy twee weke gelede met ʼn panga aangerand is. Hy is na bewering deur ʼn groep mense aangeval wat hom daarvan beskuldig het dat hy ʼn onwettige vergadering gehou het.

Nog ʼn inwoner, Dinah Sello, het ʼn beroep op Madonsela gedoen om die ondersoek te bespoedig sodat die gevegte tussen verskillende groepe in die gemeenskap tot ʼn einde kan kom. “Ons kan nie nog ses maande wag vir die verslag nie. Stel asseblief die verslag bekend sodat die bakleiery kan end kry,” het Sello gesê.

Madonsela het gesê sy sal ʼn uittrede-verslag op 14 Oktober bekendstel voordat sy haar kantoor verlaat wanneer haar termyn as OB tot ʼn einde kom. ʼn Finale verslag sal na verwagting in Desember of Januarie bekendgestel word wanneer ʼn forensiese ondersoeker en bourekenaar tyd gehad het om die inligting wat ingewin is te verifieer.

Tydens Madonsela se vorige besoek aan die gemeenskap in Julie vanjaar, het sy aan hulle gesê daar was R721 000 in die rekening tot dit in 1994 deur die ouditeur-generaal geoudit is. Oor ʼn tydperk van 20 jaar het die fonds gegroei tot meer as R617 miljoen, bestaande uit meer as R392 miljoen inbetalings en ongeveer R224 miljoen rente verdien. Teen die einde van 2014 was daar net meer as R495 000 in die rekening.

Die gemeenskap het in 2014 die rekening ophou gebruik en eerder ʼn nuutgestigte beleggingsvleuel as geldbron benut. Sedertdien is ongeveer R40 miljoen tantieme ontvang, waarvan die meeste geld klaar bestee is.

Madonsela het gesê die OB-kantoor is bewus van regeringsamptenare wat betalings uit die rekening goedgekeur het en dat sommige van hulle steeds hul amp beklee. Hulle sal egter tot verantwoording geroep word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Justice ·

En nou kan die arme gemeenskap dit nie eens bekostig om die belasting op die tantieme en rentes betaal nie.

Piet ·

Eish, nommer 1 steel dan geld om n paleis te bou, waarom kan hy nie ook nie?

Rina XX ·

Wonder net sal die nuwe OB haar werk kan doen? Hoekom kan die president oor en oor sy termyn behou…maar die OB net haar 7 jaar. Thuli jy gaan n groot leemte in Suid Afrika los. Thuli vir president sy sal die land vinnig reg ruk, en ontslae raak van al die steel steel van fondse.

jaco ·

ek kan verstaan as dit n wit gemeenskap se rekening is. om wit mense se geld te steel is seker beter as om hulle dood te maak as straf vir apartheid. maar hoe op aarde is dit moontlik dat ons swart owerhede hulle eie mense, hulle rasgenote, hulle mede-slagoffers van apartheid, so sleg behandel?

KarooKlong ·

Fantastiese geleenthede vir Finansiele Raadgewers en soortgelyke beroepe om in Brits te vestig.

Karolis ·

Ek skat na die OB se verslag gaan daar heelwat amptenare met panga letsels wees.

Lance ·

Asof dit net in Brits gebeur die hele damn land is verkrag deur die skelm mense wat nou dink hulle doen nogal n goeie job…tragies !

Hasie ·

Gelukkig affekteer daai rekening my glad nie. Wonder of die finansiële dienste raad nie ook moet help soek wie daai geld geroof het nie. Wat van die sogenaamde ombuds manne/vroue. Hulle en die fsb is net so ‘n hopelose spul geld suiers.

Frans C ·

Iets rym nie in hierdie beriggewing.Volgens News 24 is R617.13 miljoen in die rekening gedeponeer in 1995 wat dan stelselmatig oor die jare verminder is tot R721 000 in Julie
hierdie jaar (2016)

Die bedrag van R617 miljoen het bestaan uit ‘n deposito van R392 miljoen deur Lonmin en ander maatskappye en rente verdien ten bedrae van R224 miljoen.

Dit lyk dus dat die fonds stelselmatig geplunder is totdat daar net R721 000 van oor is.

Wat is die korrekte toedrag van sake?

Sylvia ·

Wat ‘n jammerte dat Thuli Madonsela se tyd verstryk het! tot op die laaste minuut werk sy. Ons hoop die volgende Openbare Beskermer gaan haar gewig ook in goud werd wees vir die SA publiek. Thuli, sluit by die DA aan. As jy staan vir Staats President, stem ek toe oë vir jou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.