Miljoene vir puttoilette vir eie gewin aangewend

Argieffoto (Foto: succo/Pixabay)

Die hooggeregshof in Makhanda (Grahamstad) het ʼn beperkingsbevel van R165 miljoen teen amptenare van die Amathole-distriksmunisipaliteit, direkteure van ondernemings en hul ondernemings wat aangekla word van bedrog, korrupsie, geldwassery, bystand om voordeel te trek uit onwettige aktiwiteite en oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur op 16 Mei bevestig.

Die beskuldigdes Ntsokolo Chris Magwangqana (64), Nkosinathi Rooseveld Soga (62), Mpumelelo Vincent Shezi (45), Lulama Taleni (45), Ongama Mahlawe (55), Goodman Ntandazo Vimba (46), Bongani Mpeluza (50), Eddison Vuyani Gaga (37), Hellen Busisiwe Kwinana-Boadi (54) en Lovemore Khativhu (41) is op borgtog vrygelaat.

“Daar word beweer dat die Amathole-distriksmunisipaliteit in 2013 ʼn projek, die Versnelde Sanitasieprogram, van stapel gestuur het waar 66 700 geventileerde verbeterde puttoilette in verskeie dorpe binne die munisipaliteit opgerig sou word. ʼn Bedrag van R631 miljoen is vir dié projek toegewys en die Siyenza Group is aangestel om dit uit te voer,” sê kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke).

“Ná die betaling van die eerste termyn, het die nasionale tesourie ʼn klagte aanhangig gemaak dat die maatskappy, Siyenza Group, twee vervalste belastingsertifikate ingedien het voordat die tender toegeken is. Ondersoeke is ingestel en die geld, ter waarde van meer as R149 miljoen, is opgespoor waar dit aan ʼn groep begunstigdes se rekeninge inbetaal is. Dit is buiten ʼn huis van R16 miljoen wat deur die direkteur van Siyenza Group aangekoop is met fondse wat vir die projek verkry is.”

Die geld en die huis is in beslag geneem en die voorlopige beperkingsbevel is op 2 Desember 2019 toegestaan nadat hulle op 22 November 2019 in hegtenis geneem is. Dit is gevolg deur die bevestiging van permanensie op 16 Mei 2023.

“Die saak is tans op die rol van die Makhanda-hooggeregshof en is uitgestel tot 20 September 2023, aangesien sommige van die beskuldigdes vertoë aan die nasionale direkteur van openbare vervolging gerig het.”

Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, provinsiale hoof van die Valke, het die gesamentlike poging van spesiale teenkorrupsie-ondersoekeenheid, die Valke in Oos-Londen en die kantoor van die Nasionale Vervolgingsgesag vir die puik werk geprys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Steph ·

Wanneer regverdiges meer word, is die volk verheug; maar wanneer goddeloses heers, sug ‘n volk.

Jessey ·

Verbeterde Puttoilette? In ‘n land waar ongelooflik baie beswaar gemaak word daaroor en die vorige regering nog geblameer word oor puttoilette, word ‘n tender toegeken vir Puttoilette? Ek slaan my oe op na die hemel.

Leef die regering nog in die “Stone age”.

Weet enigiemand dalk hoe lyk ‘n verbeterde Puttoilet? Ek sal graag die nuwe “evolusie” myself te siene wil kry

JvR ·

As daar geen riolering stelsel is, moet die toilette gereeld gediens word. As daar wel riolering is, waarom nie regte toilette bou nie?

Blikkies ·

Dis omdat sulke onnosele nikswerd goed aangestel word. Gee nie om oor hulle gemeenskap nie. Dan nog die vermetelheid om in die hof te staan en maak asof hy nou nie verstaan hoekom is hy daar nie. Uitvaagsels.

Samuel ·

Die Cyril-kaders is slu en sal tien teen een niks oorkom nie. Ons kan maar net sug en ons oë hemelwaarts rig met al hierdie ongeregtigheid.

Yvonne ·

My verstand is seker hopeloos te klein om te verstaan hoekom die mense so gierig en onbetroubaar is……alhoewel die Woord ons juis hierteen waarsku….. dit is so pynlik om elke dag meer en meer daarvan te hoor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.