Miller se praghonderdtal tevergeefs

David Miller het ’n praghonderdtal teen Indië aangeteken. Foto: Twitter.

Teoreties is dit baie maklik om ʼn krieketwedstryd te wen – jy moet net meer lopies as jou teenstanders aanteken.

En al was daar ʼn paar benoude oomblikke teen die einde, het Indië dit eintlik op ʼn amperse drafstap teen Suid-Afrika reggekry.

Nadat die Proteas in die eerste T20-kragmeting vyf paaltjies binne ʼn japtrap verloor het, het die tuisspan se kolwers gewys hoe daar in Indië gekolf moet word.

Rohit Sharma en KL Rahul het ʼn vennootskap van 96 om die eerste paaltjie geniet, waarna Suryakumar Yadav se blitsbeurt (61 van 22 aflewerings) toegesien het dat Indië ʼn reusagtige 237/3 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Kagiso Rabada, Wayne Parnell, Lungi Ngidi en Anrich Nortjé het meer as 12 lopies per boulbeurt afgestaan, maar Keshav Maharaj het uitgeblink om met boulsyfers van 2/23 te spog.

Die Protea-kolwers het uit die staanspoor ʼn opdraande stryd gevoer, maar Temba Bavuma se swak spelpeil beteken dat hulle gereeld Everest moet uitklim.

Die beleërde Protea-kaptein is vir sy tweede agtereenvolgende nulletjie uitgehaal toe Virat Kohli hom in die tweede boulbeurt van Arshdeep Singh se boulwerk uitgevang het.

Rilee Rossouw het ook gekom en gegaan, terwyl Quinton de Kock met sy tydsberekening gesukkel het.

Maar David Miller is deesdae die rots waarop die Proteas se kolfhuisie staan.

Die linkshandige ster het 106 onoorwonne lopies vanaf slegs 47 aflewerings gemoker en sy beurt het agt viere en sewe sesse ingesluit.

Danksy Miller se warrelwindbeurt kon De Kock later ook met meer vryheid kolf en het uiteindelik 69 lopies aangeteken.

Die twee kolwers se vennootskap van 174 lopies vanaf slegs 84 aflewerings om die vierde paaltjie het Suid-Afrika in staat gestel om 221/3 aan te teken.

In Miller, Markram en Stubbs beskik die Proteas oor meer as genoeg slaankrag om wedstryde te wen; as hulle maar net ʼn beter grondslag gehad het.

Dit is inderdaad beter om vóór ʼn internasionale toernooi te verloor as tydens die skouspel, maar om meer as 200 lopies af te staan sal enige span laat frons.

Dan is dit dalk tyd om Reez Hendricks nader te trek. Selfs al is Bavuma die kaptein.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 237/3 in 20 boulbeurte: Suryakumar Yadav 61, KL Rahul 57 en Keshav Maharaj 2/23.

Suid-Afrika 221/3 in 20 boulbeurte: David Miller 106*, Quinton de Kock

Indië wen met 16 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

007 ·

Dis die rede hoekom niemand op hom gebee het nie. Moenie weer so verbaas wees nie Themba

Boer ·

As die protias nie in die wb beker wil verstik nie (wat hulle sal doen), dan moet hulle hul trots in hul sakke steek en vir AB en FAF vra om te kom help, Themba en Makrham is nie T20 spelers nie laat hulle die 5 dag toetse speel.

Ronél ·

Ai, die spankeuses laat die spanne alweer in die stof byt.

Paul ·

Daar is defnitief beter spelers as Themba en as ons enigiets wil wen in wereldbeker Moet hulle nou van home ontslae raak

Frank ·

KSA, moet ASB nie weer tydens die wereldbeker ‘n Philander op die SA krieket ondersteuners trek nie…..
Drop Bavuma, maar hou nog vas aan Rossouw want hy is ‘n potensiele wedstrydwenner. Gee Reeza NOU kans om homself in te speel, NIE eers tydens die semis, of finaal nie

Casper ·

Ons moet in gedagte hou dat die Indiese kolfblasie baie moeilik is om op te kolf terwyl hulle tyd het om op daai blaaie te oefen.As die boulers nie nie regte lyn en lente handhaaf nie gaan jou dag op kantoor baie lank word.Bavuma is so begaafde speler ek dink net hy kort selfvertroue.

Afriperd ·

Wat maak Bavuma in die span?? Selfs sy provinisale rekords is nie eers goed genoeg om eintlik vir die Proteas te speel nie, ons het baie beter spelers in die land wat ons kan gebruik. Dan ook hoekom speel Jansen nie? Hy is n goeie bowler en kan kolf, maar ons klomp kies vir ou Parnell. Kies die mense op meriete.

Shakespeare ·

BEE = Bavuma. Net nog n miljoenste BEE wat nie daar hoort nie.

JohanR ·

2027 en Temba Bavuma kry uiteindelik ‘n 50 tal in T20 krieket!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.