Mimosas op haar eerste Kersfees alleen

Danny Painter en haar oorlede man, Philip. (Foto: Verskaf)

Die radioaanbieder en TV-persoonlikheid Danny Painter weet nie of sy vanjaar die Kersboom en liggies wil opsit nie, maar sy gaan beslis steeds ʼn spesiale drankie drink, nes sy en haar oorlede man altyd op Kersdag gedoen het.

Nadat Philip Painter, haar man van 17 jaar, vanjaar aan ʼn hartaanval oorlede is, benader sy die feestyd anders.

Philip is op 19 September in die egpaar se huis in Brakpan oorlede. In die dae en weke wat gevolg het, het sy probeer om haar lewe te herbou.

Sy is oop en eerlik oor haar reis die afgelope drie maande.

“Ek weet eerlikwaar nie hoe ek hier gekom het nie. Ek kan nie eens onthou waar ek was daardie eerste paar weke nadat hy ons verlaat het nie. Sommige dae was goed, ander het ek nie eens uit die bed geklim nie.

“Maar ek is oukei. Ek het uit ons huis getrek en is besig om my nuwe blyplek oor te doen. Ek en die honde leef nog en dis ʼn goeie ding, nè? Ek kry ongelooflike ondersteuning van wonderlike mense af.”

Sy het aangename herinneringe van Kersfees saam met Philip.

“Hy was ongelooflik vrygewig en veral tydens die feestyd sou hy my en die honde met geskenke toegooi. Ons het nie weggegaan oor Kerstyd nie en sou op Kersdag wakker word, mimosas skink en  presente oopmaak. Ek sou dan ʼn hele kalkoen met al die bygeregte kook. Phil was van Brittanje en dit het my só gelukkig gemaak om dit vir hom te doen.”

Die res van die dag sou die egpaar saam met die honde swem, na musiek luister en net mekaar se geselskap geniet.

Die radiopersoonlikheid Danny Painter. (Foto: Verskaf)

Hierdie Kersfees, die eerste een sedert Philip se dood, gaan sy anders benader.

“Dit gaan moeilik wees.

“Ek dink die afgelope weke baie daaraan en het in ʼn stadium oorweeg om net niks te doen nie. Maar ek dink dit sal dinge net erger maak. So ek gaan dit vanjaar heeltemal anders doen.”

Danny wil op Oukersaand klomp vriende en familie oornooi, presente oopmaak en wyn drink.

“Kersdag sal ek – met mimosas – saam met my vriende oorsee op die sosialemediaplatform Discord deurbring. Dit gaan daaroor om die dag spesiaal, maar anders, te maak.”

Sy weet nog steeds nie of sy die Kersboom en liggies wil opsit nie. “Ek weet hy sou wou hê ek moet, so dalk sal ek. So baie mense rou hierdie Desember. Ek dink jy moet dit net spesiaal maak. Vir jou, jou familie en die persoon aan die ander kant.”

Danny het die afgelope maande baie lesse geleer. Die grootste hiervan was om nie bang te wees om te “voel” nie. “Maak nie saak hoe angswekkend of diep dit is nie, jy moet dit vóél. Al beteken dit jy moet histeries huil of ʼn koffiebeker gooi.”

Sy het ook geleer hoe kort die lewe werklik is. “Ons is almal op geleende tyd en jy moet lééf. Laastens moet jy doen wat vir jou goed is. Of dit nou gebed, oefening of meditasie is. Kyk mooi na jouself en gee jouself tyd.”

Vir ander wat deur dieselfde pyn gaan, sê sy dit is oukei om te huil en ongelukkig te wees. “Soms is dit genoeg om net uit die bed te klim en jou tande te borsel, maar dis ook oukei om gelukkig te wees. Jy verdien dit om in hierdie feestyd te glimlag. As jy kan, maak vir jouself iets lekkers om te eet, skink ʼn glasie en drink dit op jou mens of mense in die hemel, want hulle is by jou.

“Jy sal hierdeur kom, net soos jy deur die afgelope paar weke, maande en jare gekom het. Jy is nie alleen nie.”

Luister na Danny Painter op weeksdae tussen 19:00 en 22:00 op Jacaranda FM se program “Love Songs with Danny Painter”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.