Min hoop vir OD, permanent of nie

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Pres. Cyril Ramaphosa se plan om die ondersoekdirektoraat (OD) ʼn permanente entiteit binne die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te maak, vorm deel van ’n groter probleem.

Dié entiteit val tans binne die kantoor van die nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV).

“Ons sit met gespesialiseerde ondersoekdirektorate, die NVG, die NDOV, die polisie … ’n Mens weet nie regtig meer waar die een se jurisdiksie begin en waar die ander se jurisdiksie eindig nie,” sê die ervare strafregkenner Llewellyn Curlewis.

Hy is nie daarvan oortuig dat die OD se ondersoekwerk tot op hede ’n permanente entiteit regverdig nie.

“Die president skep die persepsie dat permanente entiteit beteken dinge gaan oornag verbeter. Dit gaan nie. Hoekom sal die OD nou skielik suksesse begin behaal?”

Curlewis voorspel dat die OD inderwaarheid eerder op hul louere gaan rus.

“Wanneer instellings permanent word, vorm daar gewoonlik ’n soort laissez faire-houding. ’n Entiteit raak gemaksugtig want hulle weet hulle gaan nie binnekort ontbind word nie.

“Tussentydse entiteite besef egter hulle is op geleende tyd en kan oornag ontbind en vervang word.  ’n Mens kan dus verwag dat ’n tussentydse entiteit selfs meer produktief as ’n permanente entiteit sal wees.”

Die OD is in 2019 onder leiding van adv. Hermione Cronjé op die been gebring om die NVG in staat gestel om staatskaping en ander hoëprofiel-korrupsiesake meer doeltreffend te vervolg.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Adv. Andrea Johnson het sedertdien by Cronjé oorgeneem en werk tans saam met drie ander aanklaers – adv. Annemarie Friedman, adv. Peter Serunye en adv. Paul Louw – in die stryd teen korrupsie.

Natasha Venter, strafregdosent by Akademia, bevraagteken nie dié span se bekwaamheid nie. Sy bevraagteken wél of die OD genoeg onafhanklikheid geniet onder die nasionale direkteur van openbare vervolging.

Venter sê die OD behoort eerder teenoor die publiek verantwoordbaar te wees en nié die staat nie.

“Dit is waarom die [ontbinde] Skerpioene so doeltreffend was. Hulle het onafhanklike spesialisondersoekers en -aanklaers gehad wat redelike vryheid geniet het.”

Venter verwys spesifiek na die destydse vervolging van die oudpolisiehoof Jackie Selebi. Selebi is op 3 Augustus 2010 tot 15 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy omkoopgeld van die veroordeelde dwelmhandelaar Glenn Agliotti aanvaar het.

Die OD het egter in sy vier jaar van bestaan nog nie soortgelyke suksesse behaal nie.

“Met alle respek, het ons al enige groot resultate gesien? Ek het nie,” erken Curlewis openhartig.

Curlewis glo ’n beter plan sou wees om private entiteite in te span om die NVG se ondersoekwerk namens hulle te doen. “Daar is genoeg private entiteite met die nodige kennis, ervaring en hulpbronne daar buite om die aanvoorwerk namens die NVG te doen.”

Venter wonder of Ramaphosa se nuwe plan met die OD nie bloot “oëverblindery” is om Suid-Afrikaners gerus te stel dat staatskaping en korrupsie aandag geniet nie.

“Ons wil sien dat mense in hegtenis geneem, vervolg en tronk toe gestuur word. Totdat almal nie gelyk is voor die reg en hoës nie met dieselfde ywer vervolg en tronk toe gestuur word nie, gaan Suid-Afrikaners nie vertroue hê in enige direktoraat nie, al is dit hóé permanent.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.