Min hulp vir SA’ner in Thaise tronk

Ashley Oosthuizen (22) is in 2020 in Thailand in hegtenis geneem en van internasionale dwelmhandel aangekla. (Foto: Facebook / Ashley Oosthuizen)

Die geliefdes van Ashley Oosthuizen (22), ’n Suid-Afrikaner wat al bykans twee jaar lank in ’n Thaise tronk aangehou word, doen ’n beroep op die regering om dringend aandag aan haar en haar saak te verleen.

Oosthuizen se gesin vrees ook dat hulle nou selde met haar in kontak sal mag tree nadat sy onlangs na ʼn nuwe gevangenis geskuif is. Haar ouers het glo in Desember verlede jaar laas met haar gepraat.

Oosthuizen is op 8 Oktober 2020 op dwelmverwante aanklagte in hegtenis geneem nadat sy vir die ontvangs van ’n pakkie wat by haar werksplek afgelewer is, geteken het. Die pakkie was nie aan Oosthuizen geadresseer nie, maar aan die voormalige eienaar van die Hot in the Biscuit-restaurant in Koh Samui waar sy ʼn bestuurder was.

Die restaurant het ten tyde van die voorval aan haar destydse kêrel, wat as Triss Nepps (Tristan Nettles) op sosiale media bekend staan, behoort.

Oosthuizen is op die plek in hegtenis geneem, skuldig bevind op aanklag van internasionale dwelmhandel en die doodstraf opgelê. Haar vonnis is op 8 Oktober na lewenslange tronkstraf verander.

Sy en haar geliefdes beweer egter sy is onskuldig en het geensins kennis gedra van die inhoud van die pakkie wat glo uit die Verenigde Koninkryk gestuur is nie.

Oosthuizen se regsverteenwoordiger het in November verlede jaar ’n appèlaansoek in die hof gebring wat moontlik eers oor 18 maande aangehoor sal word.

Nepps het sedertdien op verskeie platforms en ook aan dié regsverteenwoordiger erken dat hy vir die misdaad verantwoordelik is. ʼn Lasbrief vir sy inhegtenisneming is in Thailand uitgereik, hoewel hy glo reeds landuit gevlug het.

Nepps is na bewering ʼn gewoontemisdadiger met ʼn lang kriminele rekord. Oosthuizen het geen vorige oortredings nie en het kort nadat sy haar matriekloopbaan aan Hoërskool Outeniqua voltooi het, na Thailand gereis. Sy wou glo in dié land werk om geld vir verdere studie te spaar en eindelik ʼn beter lewe vir haarself te verseker. Oosthuizen het aanvanklik saam met haar hoërskoolliefde na Thailand gereis, maar nadat die verhouding verbrokkel het met Nepps in ʼn verhouding getree.

Verskeie pleidooie is oor die afgelope paar maande vir haar vrylating op sosiale media gedeel.

Oosthuizen se pa, André, sê hulle kry egter geen ondersteuning van die Suid-Afrikaanse regering en -ambassade in Thailand nie, en dat geen regeringsverteenwoordiger Oosthuizen al besoek of gekontak het nie.

Maroela Media wag nog vir die regering se terugvoer ná navrae.

Die departement van internasionale betrekking en samewerking (Dirco) het gesê hulle is bewus van Oosthuizen se inhegtenisneming in Thailand en dat die departement en ambassade “standaard bystand” aan die familie verleen.

Volgens die departement is hy nie in ʼn posisie om by enige regsprosesse in ʼn ander land in te meng of in te gryp nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Jacques ·

So wat is die rede dat Suid-Afrika ambassades in ander lande het, as dit nie is om die regte van sy burgers te beskerm en hulp te verleen nie ? Ek hoop Ashley word binnekort geholpe. Van ń mede oud-kwagga.

Wondermaarnet ·

Mense in die ambassades wil die lewe leef, maar nie die werk doen nie. Wat anders het ons verwag?

Keelvol ·

En presies wat gaan hulle nou vir haar kan doen? Sy het die wet daar oortreë.

Pierre ·

Vergeet maar hulp van hierdie “regering”. Jy is te bleek. Maar was jy nou ‘n kader se dogter, was jy al by die huis.

piet ·

Ek weet darem nie, klink darem vir my te dik vir ‘n daalder dat hulle haar sommer sal skuldig bevind en die doodstraf ople. Was die polisie daar toe die pakkie oorhandig is of het sy ietsie met die pakkie aangevang………?

Deonne ·

Daar is n ou spreekwoord wat se, ” meng jou met die semels en word deur die varke gevreet”
ek self was oorsee en een ding het ek geleer, luister na jou “gut” en vertrou niemand nie, veral nie die wat oorvriendelik is nie. daar is jy op jou eie.

Marius ·

Voel jammer vir haar en haar familie , maar met ons regering wil ek nie eers saam in n oorlog wees wat met papier gevoer word nie .
Hulle is net te “useless” vir enige iets.

Marius ·

Johan – Soos ek die berig lees het sy net die pakkie ontvang wat aan iemand anders gerig was. Nerens word gese dat sy dit bestel het of gereel het of die wet oortree het nie.
Die mense NEEM aan dat sy skuldig is en klaar , ongeag wat die regte storie is.
SAers moet ophou om net te oordeel voor hulle die HELE storie en feite het.

piet ·

Nou wat kan ons regering nou eintlik doen? Dis daai mense se regstelsel en hulle het seker maar hulle ding van doen.

minniemuis ·

Sooooo my belasting geld moet nou gebruik word vir drug dealers. Sorry poplap kry jou familie jammer maar jy moes tog n idea gehad het oor die kerel se doen en late

JohanR ·

Hardloop Dali Mpofu, ‘n SA burger het jou nodig! Maar dan jy werk net vir groot geld en nie pro bono nie.

FrikkievV ·

Jammer vir haar, maar in die Ooste is dit alombekend dat jy summier vir enige-iets opgesluit kan word. Sy kan bly wees sy het nie die koning gevloek nie.
Die is goeie voorbeeld van spyt kom altyd te laat.

Anton ·

Nou al 6 jaar in Thailand, een ding is verseker, jy mors nie met dwelms hier nie. Ook baie dodgy foreigners hier. Moet maar versigtig wees met wie jy meng hier. Hoop hulle kry haar gehelp.

Roedolf Johannes ·

As sy skuldig is aan enige dwelm verwante misdaad moet sy sit waar sy sit.Dit is altyd die ARME misdadiger wat net aan hom of haar self dink en om vinnig geld te maak.Maar wat vd lewens en gesinne wat daar onder lei

Martin ·

Beste raad vir die familie is om dadelik regshulp te kry vanaf Thailand kant en dit van daar af te vat, maak ‘n afspraak met ‘n regsfirms en vlieg oor soontoe en sort dinge uit aan daardie kant. Of sy skuldig is of nie sy was gevang met dwelms. Die besit van selfs baie klein hoeveelhede dwelms kan tot tronkstraf lei. As jy skuldig bevind word aan die besit van sekere dwelms kan jy ‘n lang tronkstraf en/of ‘n swaar boete kry. As jy skuldig bevind word aan die besit van 20 gram van ‘n Klas A-dwelm in Thailand, loop jy die risiko om die doodstraf te ontvang. Maak nie saak wat jou velkleur is nie – ons regering se hulp is minimaal in die geval.

Johan ·

Sy het presies geweet wat sy doen. Speel met vuur en jy verbrand jou vingers

Stofdonkie ·

Klink of Johan daar was en self deel is van die dwelmhandel. Sluit vir die johan vent sommer op en laat haar gaan.

Cabytheron ·

Ek het geen simpatie met dwelmhandelaars nie. Hulle behoort die doodstraf te kry. Hulle verwoes lewens, gesinne, finansies, toekomsplanne. Die lewe self!
As Ashley onskuldig is, mag sy veilig tuis kom. Ek bevraagteken egter haar kêrel se optrede. As sy net die pakkie ontvang het en dadelik in hegtenis geneem is, waar was die kêrel dan? Dalk in die Verenigde Koningkryk? Dalk om ‘n pakkie aan homself te pos? Ek wonder?

Sonja ·

‘n Baie mooi land, maar lyk my maklik om na daai nare tronke te gaan. Iemand steek net iets weg in jou tas en daar sit jy. So nee dankie daai plek sien my nie so lank as wat ek lewe nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.