Min onreëlmatighede in matriek-eindeksamen

Argieffoto

Argieffoto

Die departement van basiese onderwys het Vrydag gesê ondanks dreigemente oor betogings in sommige dele van die land het die matriek-eindeksamen glad verloop.

“Die eksamen is goed bestuur en geen voorvalle is aangemeld wat die integriteit of geloofwaardigheid van die eksamen in twyfel trek nie,” het Elijah Mhlanga, woordvoerder vir die party, gesê.

Mhlanga sê betogers in die Oos-Kaap het drie weke gelede gedreig om die eksamen te ontwrig en die polisie moes matrikulante van een skool na ʼn ander verplaas.

Die matriek-eindeksamen het op 27 Oktober begin en Vrydag geëindig. Altesaam 688 660 leerlinge was vir die eindeksamen geregistreer.

Die merkery begin Sondag en 41 000 persone sal by 118 lokale landswyd die vraestelle merk. “Die merkery sal na verwagting op 18 Desember afgehandel wees,” het Mhlanga bygevoeg.

Die punte sal dan op die departement se rekenaarstelsel ingevoer word ter voorbereiding van die Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding, se proses. Umalusi se proses sal tussen 21 Desember en 23 Desember plaasvind.

Minister Angie Motshekga sal na verwagting op 5 Januarie die uitslag van die eksamen bekend maak en leerlinge sal na verwagting op 6 Januarie hul individuele uitslae ontvang.

Die departement het Dinsdag gesê die uitslae wat in koerante gepubliseer word, sal slegs die leerlinge se identiteitsnommers en eksamennommers aandui. Die leerlinge se name word nie by hul uitslae gepubliseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.