Daar is bitter min oor van die staat se toerismeknooppunt van R11,7 miljard by Boschberg in die Oos-Kaap.
Boschberg wat eens as die “berg van drome” beskryf kon word, is eerder nou die “berg van nagmerries”, meen Vicky Knoetze, die DA se woordvoerder oor samewerkende regering in die Oos-Kaap.
Die opposisieparty het nou ’n skrywe aan Xolile Nqatha, LUR van samewerkende regering, gerig waarin daar versoek word dat die omstandighede wat gelei het tot die totale vernietiging van dié knooppunt ondersoek word.
Die DA blameer die ANC vir die toerismeknooppunt se agteruitgang en beveel in die skrywe aan dat die eiendom geprivatiseer word sodat dit opgeknap kan word en kan terugkeer na sy aanvanklike doelstelling – bevordering van die plaaslike ekonomie.
Die Boschberg-toerismeknooppunt, wat in die omgewing van Somerset-Oos geleë is, is in 2015 voltooi nadat dit destyds geïdentifiseer as ʼn belangrike ontwikkelingsprojek vir die Blue Crane Development Agency wat sedertdien ontbind is.
“’n Bekwame staat sou eers ’n beoordeling gedoen het voordat hy miljoene rande se swaarverdiende belastingbetalersgeld weggegooi het, óf ten minste verseker het dat die regering se befondsde infrastruktuur beskerm word teen vandalisme en plundering,” sê Knoetze in ’n verklaring.
Volgens Knoetze was die ANC destyds vinnig om te spog oor hoe die streek die gemeenskap uit armoede sou lig. “Die ANC-regering het egter geen verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie mislukte projek wat nooit tot voordeel van die inwoners van Somerset-Oos was nie.”
Die knooppunt het ten doel gehad om ’n basis vir talle toerismeprodukte te wees, gegrond op aktiwiteite, avontuurtoerisme, ekotoerisme asook kulturele en landboutoerisme. Die toerismeknooppunt moes 95 permanente werkgeleenthede skep.
“In plaas daarvan het dit geen waarde, werkgeleenthede of [positiewe] ekonomiese gevolge vir die gemeenskap meegebring nie,” sê Knoetze.
Knoetze versoek dat die LUR haar vergesel op ʼn besoek aan die knooppunt sodat sy die erns van probleem kan uitwys.
Soos iemand op radio gestel het, ANC = rampokker bende.
Ek stem, en dit sal nie verbeter nie, eerlik en bevoeg wees is nie deel van hulle leuse nie
Nog een van VELE “suksesse” van die huidige regering.
Somerset-Oos is nie die plek vanwaar toerisme bevorder moet word nie. Cradock is baie beter geleë! Die Regering gaan in die toekoms nog baie sulke “foute” maak!
R123 m per werker. ?????????