Min SA’ners ingeënt oor die naweek

Foto ter illustrasie. (Foto:
Hakan Nural/Unsplash)

Die DA het Maandag ʼn beroep op die minister van finansies, Tito Mboweni, gedoen om die nodige geld beskikbaar te stel om Suid-Afrikaners teen die Covid-19-virus in te ent nadat slegs 23 621 mense die afgelope naweek inentings ontvang het.

Suid-Afrika steek boonop ver af teen ander lande en selfs ander Afrika-lande, waar veel meer lede van die bevolking nou reeds ingeënt is.

Volgens Geordin Hill-Lewis, die DA se woordvoerder oor finansies, is 21 332 mense Saterdag teen die virus ingeënt, terwyl slegs 2 289 mense Sondag die inenting ontvang het.

In totaal het Suid-Afrika reeds sowat 2,6 miljoen mense ingeënt met minstens een dosis van ʼn entstof. Dit is sowat 4,49 % van die totale bevolking.

Dít terwyl Egipte en Nigerië met veel meer lede van die bevolking reeds onderskeidelik 4,14 miljoen en 3,1 miljoen mense ingeënt het. Kanada en Israel het meer as 60% van hul bevolking met minstens een dosis van die entstof ingeënt.

Suid-Afrika vaar egter veel beter as Namibië, Botswana en Zimbabwe wat onderskeidelik 139 022, 200 893 en 1,19 miljoen mense ingeënt het. Dié lande het ʼn veel kleiner bevolking as dié van Suid-Afrika.

Wêreldwyd is 2,92 miljard mense reeds met een dosis van ʼn Covid-19-entstof ingeënt.

“Die toediening van entstowwe in Suid-Afrika vorder buitensporig stadig en die gevolge daarvan sal gesien word in die hoeveelheid mense wat hul lewens aan dié virus verloor,” het Hill-Lewis gesê.

Hill-Lewis sê die departement van gesondheid beweer dat die oortydbegroting om inentingspersoneel oor naweke te betaal, uitgeput is.

Die DA hou vol dat hierdie stelling egter onwaar is.

“Daar is genoeg geld beskikbaar in die nasionale begroting om die koste van ʼn sewe dae lange inentingsveldtog te dek. Dit is ook nou die tyd om die noodreserwe van R9 miljard te gebruik en aan provinsiale gesondheidsdepartemente beskikbaar te stel sodat die uitgawe vir bykomende personeel gedek kan word,” het Hill-Lewis gesê.

Die nasionale tesourie het vanjaar R6 miljard begroot vir die inentingsveldtog, waarvan R1,5 miljard aan provinsiale departemente toegeken is vir personeelkoste. Boonop is ʼn bykomende R9 miljard in die noodreserwe begroot, wat ook vir dié veldtog gebruik kan word.

“Hierdie probleem kan voor die einde van die week opgelos word indien Mboweni die geld beskikbaar stel.”

Sien die statistieke oor die getal mense per land wat minstens een dosis van ʼn entstof ontvang het hier.

Die getal mense per land wat minstens een dosis van ʼn entstof ontvang het. (Bron: Our World in Data)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pot se lepel ·

Daardie geldjies wat uitgestuur is is lankal weg. Is nie meer beskikbaar nie. Noodfondse het seker voete gekry?

Belinda ·

hoe wil mens vir in-enting gaan as hul nie na al die jare meds kon kry vir Kanker, HIV, TB ens nie maar binne n jaar iets vir covid? dis n viral infection so dis nie sommer net n “”kiem”” nie. Ek sal tot op die laaste wag om DALK dit te kry, ek wil eers sien wat doen die in-entings na so paar maande. More loop ons almal met gesondheids probleme oor die goed.. nee wat ek skip maar dit.

Carina ·

Belinda ek stem saam met jou. Dit neem jare om ‘n teenmiddel of nuwe medisyne te skep. Jare van toetse, ens voor dit enigsins op mense getoets word. En hier skep hulle sommer binne ‘n jaar ‘n “entstof” vir ‘n nuwe virus. Ek SAL NIE die entstof neem nie. Ek glo covid is geplant om massa histerie te veroorsaak, sodat mense in lyn sal gaan staan om die ‘entstof’ te kry. Sodoende bereik hulle gouer “herd control”, nie “herd immunity” nie. Dit staan in Openbaring, almal sal die Merk van die duiwel kry, die wat dit nie het nie, sal NIKS kan doen, koop, ens nie. Die Een Wêreld orde is baie nader as wat mense besef. Hoekom moet mens gaan registreer om dit te kry, hoekom kan jou dokter of kliniek nie net een gee nie? Want so bou hulle ‘n register op van wie het en wie het nie.

JohanR ·

Israel met sy 10 miljoen mense het al meer as ses weke gelede kudde-immuniteit bereik(60% van bevolking). Hier besluit hulle nog wie kry die inenting tenders. En dan dink die ANC die Jode is rerig nutteloos! Dankie Cyril en Covid-19 raad julle het met Sondag aand se aankondiging nog 5000 besighede en 50000 duisend werker sonder ‘n besigheid of ‘n werk gelaat. Dankie Cyril!

Karen ·

Geen geld om beskikbaar gestel te word nie, dit is al lankal “weg”.

SjN ·

Kry die geld terug by die minister wat met verpligte betaalde verlof besig is om dit te bestee. Probleem opgelos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.