Min Shaw en Lance James vereer vir bydrae tot Afrikaanse musiek

Min Shaw en Lance James word deur die FAK vereer (Foto verskaf deur die FAK)

Die Afrikaanse Country-duetpaar Min Shaw en Lance James, is tydens vanjaar se Afri-Duetfees, een van die grootste gebeure op die Afrikaanse kultuuralmanak, deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ’n Prestige-toekenning vir hulle bydrae tot Afrikaanse musiek die afgelope meer as 50 jaar vereer.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Shaw en Lance as ons Suid-Afrikaanse adel beskryf. “Min (Shaw) en Lance (James) is ons eerste Suid-Afrikaanse duetpaar en een van ons grootste Afrikaanse legendes. Hulle loopbaan strek oor ’n tydperk van 60 jaar in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf,” het Langner gesê.

“Hulle is vanjaar reeds ’n duetpaar vir 51 jaar. Hulle het meer as duisend konserte saamgedoen. Dit is vir die FAK ’n voorreg om met hierdie toekenning vir hulle dankie te sê vir hulle baanbrekerswerk. Dankie vir die adel wat hulle in ons kultuur gebring het. Dankie vir hulle bymekaarwees, dankie vir duisende gehore wat hulle met hul musiek vermaak het, dankie vir liefde waarvoor hulle staan en uitgedra het.”

Langner het Min en Lance as twee legendes en musiekpioniers opgesom. “Twee minsame, nederige oortuigde Christene met dankbare woorde vir ’n halfeeu se geslypte en verdiepte vriendskap, verwondering oor geleenthede en gehore en ’n getuienis van die Here se liefde en genade.”

Min, wat in November vanjaar 85 jaar oud word, is ná dekades in die musiekwêreld steeds die land se liefling. Sy was op haar dag saam met Virginia Lee die eerste Suid-Afrikaanse sangeres wat meer as ’n miljoen plate verkoop het. Sedert 1966 het sy 70 albums en 800 liedjies uitgereik. Sy het geen formele sangopleiding gehad nie.

Min, wat eintlik as onderwyseres opgelei is, is nie net ’n sangeres nie, maar het van 1967 tot 1970 die hoofrol in vier flieks vertolk. Die klankbaan van Hoor my lied, die 1967-fliek waarin sy saam met Gé Korsten gespeel het en waaruit “Die heidelied” kom, het meer as 200 000 eenhede verkoop. In die rolprent, Jy is my liefling, wat in 1968 gemaak is, het sy teenoor Franz Marx gespeel en onmiddellik in die harte van mense gekruip. Vroeër vanjaar is haar biografie, Min Shaw: Sprokie van ’n liefling, ook bekendgestel.

Min het met die ontvangs van die FAK Prestige-toekenning gesê: “Dis só groot eer om só vereer te word. Ek voel trots Afrikaans.”

Min Shaw en Lance James word deur die FAK vereer (Foto verskaf deur die FAK)

Min en Lance, wat in 1968 saam begin sing het, is op die kruin van hulle sukses met helikopters na konserte toe gevlieg.

Lance James (81) oftewel The Big Daddy van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf het bewoë geraak toe dié toekenning deur die sangeres Corlea Botha aan hom oorhandig is. “Dis ’n hoogtepunt in my loopbaan,” het hy gesê.

Lance het vir jare vir die SAUK gewerk voordat hy in 1981 voltyds begin sing het. Sy loopbaan het in 1969 met ’n langspeelplaat begin. Langer as ses dekades in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en 134 albums is hy ook die oudste sanger in die land wat vanjaar ’n vollengte album, Swansong, opgeneem het. Hy het 24 regte Cowboy-hoede en 24 pare stewels, wat hy uit Amerika bestel om die regte country-gevoel te skep.

Dit is vanjaar die sesde Afri-Duetfees gewees. Die vier manne, Burgerd Botha, Louis Loock, Adam Barnard en André Venter van die sanggroep Romanz, het vanjaar saam met Corlea Botha, Natasha Joubert, Loriska Bubb en Almari du Preez in duetpare by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria opgetree. Hulle het van Min en Lance se bekendste liedjies soos “Die Heidelied”, “Op Mooifontein”, “Bloedrooi die rose” en “Dankie” gesing.

Min en Lance het daarna “Bymekaar”, die heel eerste duet wat hulle in 1968 gesing het, gesing.

Nadat Corlea Botha en Louis Loock die FAK-toekennings aan Min en Lance oorhandig het, het die duetpare “Daar is niks soos ware liefde”, nog een van Min en Lance se bekendste liedjies, saam met hulle gesing.

Die Afri-Duetverhaal het op ’n Saterdagoggend in September 2013 begin toe die sangegpaar Willie en Natasha Joubert, die gaskunstenaars by die Gereformeerde kerk Andeon se 25ste jaarlikse Jakarandatee was. Hulle gevoelvolle optrede was die inspirasie wat die Duetfees-konsep by Andeon en Bergsig se predikant, Ds. Cassie Aucamp laat posvat het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cherokee ·

Albei mense met pragtige sangstemme. As ek aan Lance James dink, dink ek aan ‘Vicki’.

Honey Bee ·

Baie dankie FAK hulle verdien dit. Geluk aan Lance en Min.

Mariana ·

Baie geluk aan hulle. Nog steeds gewild. Dankie ook aan FAK.

Maria Boshoff ·

Baie geluk Min en Lance, julle is “royalty”, soos hulle sal wil sê. Die ander kunstenaars wat ook deel van die geleentheid was, is ook elkeen in n klas van sy/haar eie.

daleen ·

Dankie Lance & Min, julle bly albei baie stunning mense! veral Big Daddy Lance James, geniet sy musiek so baie, albei is sulke mens-mense! Dankie ook aan ds Cassie vir al die werk wat jy insit vir die duet fees elke jaar, ons weet hoeveel verg dit van jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.