Min tot geen water vir Tshwane ná vandalisme

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Dele van Tshwane het reeds min tot geen water in die pype nadat Rand Water se watertoevoerkomponente na die metro vandeesweek onder vandalisme deurgeloop het.

Hoewel die herstelwerk aan dié broodnodige komponente aanvanklik net 10 uur sou neem, is dit nou onduidelik wanneer die werk voltooi sal word.

Lindela Mashigo, woordvoerder van die Tshwane-metro, sê Rand Water se infrastruktuur is Woensdag deur misdadige elemente geteiken. Die vandalisme het groot skade veroorsaak aan die isoleerkleppe van die pypleiding wat Ekurhuleni se Edenpark van water voorsien.

“Dit het op sy beurt die pompkapasiteit aan Palmiet op 52% gelaat en op 27% aan die Mapleton-aanjaagpompstasies wat water aan Tshwane se reservoirs voorsien,” sê sy.

Die aanvanklike hersteltyd het intussen gekom en gegaan, aangesien die spanne “uitdagings ondervind het oor die omvang van die werk wat gedoen moet word”.

“Dit is nog nie duidelik wanneer die herstelwerk voltooi sal word nie.”

Intussen ervaar groot dele van die Tshwane-metro al dae lank lae waterdruk of het geen water nie.

Dele wat veral geraak word, is onder meer Arcadia, Groenkloof, Gezina, Lynnwood, Monumentpark, Rietfontein, Waterkloofrif, Ashley Gardens, Brooklyn, Hazelwood, Menlopark en Muckleneuk.

Die Wonderboom-reservoir, wat die noorde van Pretoria bedien, is ook geraak, asook gebiede soos Hennopspark, Rooihuiskraal, Kosmosdal en Wierdapark.

Talle ander reservoirs gaan ook nog gebuk onder die min tot geen watertoevoer weens die vandalisme.

Dít terwyl ʼn beplande waterstilstand vroeg Vrydagoggend begin het. Die Tshwane-metro het weke vantevore aangekondig dat ʼn nuwe waterpypleiding in hierdie tyd geïnstalleer word en dat sekere dele van Tshwane vir sowat 30 uur lank nie water sal hê nie.

Woongebiede soos The Hills, Boardwalk Meander, Olympus, Pretoriuspark en Mooikloofrif word hierdeur geraak.

Volgens Mashigo sal die betrokke gebiede van watertenkwaens voorsien word. Die metro het ook ʼn beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

ANARGIE in die land! Hier is meer KRIMINELE in die land as wetgehoorsame burgers

Annalize ·

Hierdie maak my kwaad! Kom ons breek die bietjie wat ons nog het af en dan toi toi ons oor daar nie dienste gelewer word nie OOR ons dit afgebreek het.
Alternatiewe in water is maar die beste manier om op die stadium seker te maak jy het water.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.