Min tyd om onwettige vuurwapens in te lewer

(Argieffoto)

Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) het gewaarsku dat daar net 18 werksdae oor is vir vuurwapeneienaars om onwettige vuurwapens in hul besit aan die polisie te oorhandig.

Die vuurwapenamnestie eindig op 31 Januarie. Tot dan kan mense vuurwapens waarvan die lisensies verval het, ingee, terwyl hulle ook vir nuwe lisensies kan aansoek doen.

Die organisasie het mense aangeraai om die laaste weke van die amnestietydperk te benut.

“Mense in besit van onwettige vuurwapens wat hierdie geleentheid deur hul vingers laat glip, kan strafregtelik vervolg en tot tien jaar tronkstraf opgelê word,” het Fred Camphor, uitvoerende hoof van SA Jagters, gesê.

Die organisasie sê enigeen wat ʼn onwettige vuurwapen of ʼn vuurwapen waarvan die lisensie verval het tydens die amnestietydperk inlewer, kan binne 14 dae aansoek doen vir ʼn nuwe lisensie. As die lisensie goedgekeur word, word die vuurwapen en ammunisie aan die eienaar teruggegee.

Die polisie sal ook ballistiese toetse op alle vuurwapens doen wat ingelewer word om vas te stel of dit aan misdaad verbind word. Wapens wat ingegee word, word aan die polisie verbeurd verklaar en geen vergoeding word daarvoor betaal nie.

Camphor het gesê diegene wat hulp benodig met die proses kan SA Jagters bel by 012 808 9300.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.