Min tyd vir Gauteng-skole om plasings te evalueer

klaskamer

Foto: Feliphe Schiarolli/Unsplash.com

Skole in Gauteng is Woensdag glo ná kantoortyd deur die departement van onderwys in kennis gestel dat hulle tot Donderdagmiddag 12:00 tyd het om plasingslyste te evalueer en te aanvaar.

Enige foute of besware moet dus óók teen dan opgespoor en aangemeld word.

Aansoeke vir die plasing van gr. 1- en gr. 8-leerders op die departement se aanlyn registrasiestelsel het onlangs gesluit en die plasingsproses sal glo teen 30 November afgehandel wees.

Die skrywe wat Woensdagaand uitgereik is beteken egter dat skole basies Donderdag vier uur geleentheid het om lyste deur te werk en seker te maak dat die skool en departement se lyste ooreenstem, voordat die finale plasings aan ouers uitgereik kan word.

Foute ontstaan veral in die geval waar leerders nie plek in dieselfde skool as hul sibbe gekry het nie, of gr. R-leerders wat nie plek in gr. 1 by dieselfde skool gekry het as waar hulle tans skoolgaan nie.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê hulle oorweeg nou regsaksie teen dié regulasies wat volgens Buys “onbillike en ongrondwetlike gevolge meebring”.

“Hoewel die gegewe tyd nie ʼn probleem sal wees vir skole wie se lyste 100% reg is nie, is daar verskeie skole met foutiewe lyste.”

Dié skole het dus nie die luuksheid om die lyste vinnig deur te werk en goed te keur nie.

Buys sê daar is veral ʼn groot probleem by gr. R-leerders wat nie toelating vir gr. 1 by dieselfde skool gekry het nie, omdat slegs die afstand tussen die kind se huis en die skool in ag geneem word, en nie die feit dat die kind reeds in gr. R by die betrokke skool was nie.

“Ons tweede probleem is sibbe wat nie in dieselfde skool as hul ouer boeties of sussies geplaas is nie.”

Buys sê omdat druk op skole vanjaar groter is, het leerders wat binne 2 km van die skool woon, voorkeur gekry. Daar is egter nie in ag geneem of die betrokke leerder reeds ʼn sib in die skool het nie.

“Hoewel dít ʼn klein persentasie leerders is, is die impak daarvan enorm. Leerders en ouers word erg hierdeur benadeel.”

Buys doen verder ʼn beroep op beheerliggame om enige besware duidelik op skrif te stel en by die departement in te dien – ongeag of hulle dadelik reageer of nie.

Sy sê beheerliggame word ook in die proses van hul regte ontneem aangesien hulle eintlik oor die plasings by skole moet besluit – en nie die skool sélf nie.

“Skole word nou versoek om die lyste te evalueer en goed te keur, terwyl daardie verantwoordelikheid eintlik by ʼn skool se beheerliggaam lê.”

Maroela Media het vroeër berig die fase 1-plasing van leerders sal tussen 15 Oktober en 30 November plaasvind, terwyl leerders in fase 2 tussen 15 November en 30 November in skole geplaas sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris dupreez ·

Die grootste fout in Gauteng se skoolplasings is Lesufi homself.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.