Min ‘veilige hande’ in plaaslike owerhede se geldkoffers – OG

Die ouditeur-generaal Kimi Makwetu. (Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Kimi Makwetu, Suid-Afrika se ouditeur-generaal (OG), se verslag oor die stand van munisipaliteite landwyd skets geen rooskleurige prentjie nie. Die OG het in sy jongste verslag wat Woensdag vrygestel is, bevind miljarde rande wat aan plaaslike owerhede toegeken is, word teenstrydig met voorskrifte bestuur.

Volgens Makwetu skep dit swak aanspreeklikheid en ʼn groot kans dat belastingbetalers se geld misbruik kan word. “Die veilige en skoon hande waarop gereken kan word om by plaaslike regerings na lede van die publiek se geld om te sien, is bitter skaars.”

Makwetu sê die regering kan nie bekostig om geld te verloor weens swak besluitneming, verwaarlosing en ondoeltreffendheid nie. Die swak ekonomiese klimaat speel wel ʼn rol in munisipaliteite se verswakkende finansiële gesondheid, maar die OG sê hulle finansies word bloot nie goed genoeg bestuur nie.

Munisipaliteite landwyd het verlede jaar altesaam R32,06 miljard onreëlmatig bestee, ʼn beduidende styging van die R25,2 miljard wat in die vorige jaar aangemeld is.

Makwetu sê nadat die finansiële state van al die munisipaliteite nagegaan is, kan daar tot die gevolgtrekking gekom word dat plaaslike regerings die geld en bates het om aan die basiese behoeftes van hulle burgers te voldoen, maar dat baie werk gedoen moet word om te verseker dit gebeur werklik.

Die OG het bevind daar is ʼn toenemende neiging dat dienste en goedere aan verbruikers gelewer word – en dat die munisipaliteit vergoeding daarvoor sal ontvang – maar dat al hoe minder betalings daarvoor ontvang word.

Makwetu sê daar is ook talle amptenare by munisipaliteite wat ledig sit, terwyl die owerheid dan geen ander keuse het as om konsultante ten duurste aan te stel om die werk te doen nie. Hy sê die ouditverslag moet gebruik word om stappe te doen om die integriteit van die instellings te herstel sodat hulle só bestuur word dat hulle aan burgers se behoeftes kan voldoen.

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Die verslag skets ʼn kommerwekkende prentjie van munisipaliteite wat meestal “verlam word deur skuld en nie vir water en krag kan betaal nie, asook onakkurate en halfhartige skuldinvordering, uitgawes wat onreëlmatig, vrugteloos en verkwistend is, en ʼn afhanklikheid van toelae van die nasionale regering”.

“Die finansiële state van ʼn munisipaliteit vertel die verhaal van hoe goed ʼn munisipaliteit bestuur word. Soos in die geval van enkele munisipaliteite kan dit ʼn goeie verhaal van gedissiplineerde besteding wees wat waarde vir geld verseker, korrekte rekening- en invorderingspraktyke, bates wat onderhou en opgepas word, versigtige beleggings en besparings vir noodgevalle en toekomstige projekte en verbintenisse aan krediteure en die gemeenskap wat nagekom word,” het Makwetu gesê.

Hoewel die verslag slegte nuus vir die meeste plaaslike owerhede is, was daar wel enkele ligpunte – en die meeste hiervan was in die Wes-Kaap.

Dertien munisipaliteite wat uitstekend gevaar het, is in die Wes-Kaap (Kaapse Wynland, Weskus, Bergrivier, Kaap Agulhas, Cederberg, Drakenstein, Hessequa, Langeberg, Overstrand, Prins Albert, Saldanhabaai, Theewaterskloof en Witzenberg). Ander munisipaliteite wat deurlopend goed vaar, is Senqu (Oos-Kaap), Midvaal (Gauteng), Okhahlambaa (KwaZulu-Natal), Capricorn (Limpopo), Gert Sibanda en Nkangala (Mpumalanga), asook John Taolo Gaetsewe (Noord-Kaap).

Makwetu sê by hierdie plaaslike owerhede is daar bestendige leierskap wat verbind is tot behoorlike bestuur en regering. Ouditplanne word gereeld nagegaan en daar word proaktief opgetree om risiko’s te hanteer.

Die pogings van dié munisipaliteite word egter deur die res oorskadu.

Oos-Kaap

Die OG het bevind die provinsie steier onder ʼn gebrek aan finansiële beheer en projekbestuur en daar is ʼn kultuur om aanspreeklikheid te omseil en oortredings oor die hoof te sien.

Onreëlmatige besteding in die provinsie beloop R2,5 miljard en ʼn verdere R4,2 miljard is uitgewys om geoudit te word. Die Oos-Kaap het R118 miljoen aan konsultante vir finansiële verslagdoening betaal en R2 miljoen hiervan is bestee deur munisipaliteite wat nie eens die sperdatum vir die verslag kon haal nie.

Vrystaat

In die Vrystaat het die situasie vir die derde agtereenvolgende jaar versleg. Tien munisipaliteite het nie betyds state ingedien nie. Bykans die helfte van munisipaliteite in die provinsie het nog glad nie verslag gedoen oor hoe hulle belastinggeld bestee het nie en verskeie ander het dit so vrot gedoen dat hulle state nie vertrou kan word nie.

Daar is ʼn gebrek aan basiese finansiële dissipline, ʼn onwilligheid om aan wetgewing te voldoen en ʼn algemene minagting vir interne beheer en aanspreeklikheid.

Die provinsie se onreëlmatige besteding het R1,4 miljard beloop en onreëlmatige besteding van nog R341,6 miljoen is uitgewys nadat die OG se verslag reeds afgehandel is.

Die provinsie het R46 miljoen aan konsultante vir finansiële verslagdoening betaal, maar dit het weinig bygedra tot die gehalte van state.

“Die gebrek aan vaardigheidsoordrag van konsultante na munisipaliteite is duidelik deurdat sommige amptenare nie eens die mees basiese finansiële inligting sonder die hulp van ʼn konsultant kan verskaf nie,” het Makwetu bevind.

Gauteng

Gauteng vaar beter en was die enigste provinsie waar al die munisipaliteite ongekwalifiseerde oudits ontvang het. Slegs Midvaal het egter soos vorige jare ʼn skoon ouditmening gekry. Munisipaliteite wat gebuk gaan onder politieke onbestendigheid of administratiewe leierskap – soos Tshwane en Johannesburg – kon nie hulle situasie verbeter nie.

Die provinsie het R1,8 miljard onreëlmatig bestee. Onreëlmatige besteding van nog R3,3 miljard is uitgewys nadat die verslag afgehandel is.

KwaZulu-Natal

Die provinsie sukkel steeds met basiese finansiële en bestuursprosesse, is traag om verbeteringsplanne in werking te stel en daar is gebrekkige aanspreeklikheid.

Onreëlmatige besteding in KwaZulu-Natal beloop R6,5 miljard, met die eThekwini-metro wat vir R2,34 miljard daarvan verantwoordelik is. Nóg R17,2 miljoen moet ondersoek word.

Die provinsie het konsultante R95 miljoen betaal om finansiële state voor te berei, terwyl amptenare reeds betaal word om dié werk te doen.

Limpopo

In Limpopo het ses munisipaliteite goeie vordering getoon en drie het verder agteruitgegaan. Die provinsie het R249 miljoen aan konsultante vir die voorbereiding van finansiële state bestee en steeds het alle munisipaliteite nie eens hul state ingedien nie.

Makwetu waarsku dat amptenare ook gewoond raak daaraan om betaal te word vir werk wat konsultante eindelik moet doen.

“Die uitwerking van die R1,2 miljard-verlies wat weens die likwidasie van VBS Mutual Bank gely is, word steeds deur die geraakte munisipaliteite gevoel en dit het dienslewering beïnvloed.”

Die provinsie se onreëlmatige besteding beloop R1,5 miljard en nog R594 miljoen moet ondersoek word.

Mpumalanga

Die provinsie het R154,3 miljoen van voorwaardelike toelaes glad nie bestee nie en dit dui op swak beplanning deur munisipaliteite, het Makwetu gesê.

Mpumalanga se onreëlmatige besteding beloop R1,09 miljard vir die jaar onder hersiening.

Die OG het gesê daar is ʼn gebrek aan interne beheer by verskeie munisipaliteite en al hoe minder aanspreeklikheid en finansiële bestuur.

Noord-Kaap

Die provinsie het ʼn geskiedenis van swak oudituitkomste en daar was weinig entoesiasme in die Noord-Kaap om enigsins gehoor te gee aan die OG se aanbeveling dat voorkomende maatreëls in werking gestel moet word.

Verkrygingsprosesse word misbruik, bankrekeninge word nie behoorlik nagegaan nie, inkomste gaan verlore weens gebreke in die stelsel of transaksies wat twee keer aangeteken word, en daar word nie behoorlik boek gehou nie.

Munisipaliteite in dié provinsie se onreëlmatige besteding het R390 miljoen beloop.

“Ondanks die algehele swak vertoning van munisipaliteite het ʼn handvol goeie ouditresultate behaal. ʼn Voorbeeld hiervan is die John Taolo Gaetsewe-distriksmunisipaliteit wat ʼn skoon oudit behaal het.”

Noordwes

Ook Noordwes is op ʼn afdraande pad en die OG sê die provinsie se onvermoë om sy negatiewe oudituitkomste om te keer is rede tot kommer.

Senior bestuur, munisipale bestuurders, burgemeesters, interne ouditkomitees, ouditkomitees, munisipale komitees en rade neem boonop nie aanspreeklikheid vir probleme nie.

Munisipaliteite in die provinsie se onreëlmatige besteding beloop R3,7 miljard en nog byna R2 miljard moet ondersoek word. Ook hier word munisipale amptenare en konsultante betaal om presies dieselfde werk te doen.

Wes-Kaap

(Foto: Love South Africa/Facebook)

Die grootste konsentrasie skoon oudits is in die Wes-Kaap (45%) en 93% van munisipaliteite in die provinsie het ongekwalifiseerde oudits ontvang. Agt munisipaliteite het hulle skoon ouditstatus behou en ses hiervan handhaaf dit al vir vyf jaar of langer.

By dié munisipaliteite is daar sterk leierskap, beheermaatreëls wat op stelsels en nie net individue staatmaak nie en hoë vlakke van aanspreeklikheid.

“Die finansiële state kom grootliks ooreen met die sosio-ekonomiese klimaat van die onderskeie munisipaliteite, asook die OG se assessering van finansiële dissipline. Meer munisipaliteite sukkel om skuld in te vorder, maar die algemene finansiële gesondheid was die sterkste van al die provinsies,” het Makwetu bevind.

Onreëlmatige besteding in die provinsie het R2,7 miljard beloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Mnr Makwetu..amper sewe-en -vyftig duisend miljoen Rand onreelmatig bestee in 2 jaar!!!U praat jaar na jaar en ,behalwe Weskaap, val alles op dowe ore. Dis ‘n absolute skreiende skande vir die totale disrespek vir skaars hulpbronne.Kla die betrokke Minister en LUR’e aan. Dank die onbevoegde kaders in munisipaliteite af, kla hul aan en vervang met minder bevoegde persone.So kan mens aangaan. DOEN iets en hou op praat!!!! Ons wil nie die klaagliedere in 2021 hoor ASB!!

Jackie

Aanspreeklikheid X 3. Al die amptenare weet dat daar geen gevolge is vir swak ‘performance’ is nie. Dis net 99% ok waar die DA aan bewind is. Dis ongelukkig die vrugte wat ons van swak opvoeding wat die land nou pluk.

Renee

Kan ek nie maar ook n’ konsultant word nie, Die kurrupsie is so hoog dat nog voor die geld in die bank is is dit reeds uit. Almal eet van die koek.

Trotse Boervrou

Die swak besluitneming en onveilige hande het reeds net voor 1994 begin. Vanaf 1994 was daar geen besluitneming meer oor gewees nie. Ek is dankbaar die uitverkopers word gespaar om hierdie syfers waaroor berig word te sien. So dankbaar hulle word verwerp deur hulle land sowel as die buiteland. Dankbaar dat die boere en baie ander mense se bloed nie op my hande is nie. Kyk, en kyk baie mooi, wat jul aan jul eie mense en Suid-Afrika gedoen het. Dit is ons swaar verdiende geld waaroor hier berig word.

Magda

hahahah – lag my dood Veilige hande = klomp SKELMS EN 100% VAN HULLE IS IN DIE ANC (ALL NATIONAL CRIMINALS) en weereens praat julle baie maar bitter min aksie. SO GATVOL- ek mag maar net wens eendag ———————————-