Min vertroue in politici, instellings om korrupsie te pak

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Terwyl Suid-Afrikaners uiters bekommerd is oor die uitwerking van korrupsie op hul lewens, het hul weinig vertroue in politici, die polisie en ander instellings om korrupsie doeltreffend te pak.

Dít is een van die grootste bevindings wat die organisasie Corruption Watch (CW) in sy jongste verslag, “The Impact of Corruption”, maak.

Die verslag is Donderdag bekend gestel.

Van al die respondente wat aan CW se studie deelgeneem het, het twee-derdes aangedui dat hulle “skepties” is oor instellings se vermoë om die stryd teen korrupsie te wen. Dit lyk ook nie of respondente ten volle vertroue in teenkorrupsiewetgewing of ‑beleide het nie – in baie gevalle het hulle egter nie voldoende kennis oor sodanige wetgewing nie.

“Die navorsingstudie het ten doel om die persepsies, karaktereienskappe en ervarings van korrupsie, sowel as die teenwoordigheid van korrupte praktyke in die openbare en private sektore in Suid-Afrika, uit te lig,” verduidelik Melusi Ncala, uitvoerende hoof van aandeelhouerverhoudings en veldtogte.

Die opname is gedoen deur hoofsaaklik fisieke onderhoude met minstens 1 500 respondente reg oor die land te voer. Die meeste van hulle woon in Gauteng (764), gevolg deur KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap. Sewe uit elke tien respondente identifiseer as swart, 15% as bruin, 10% as wit en 4% as Asiaties.

Die groter meerderheid is tussen 35 en 40 jaar (45%) oud, gevolg deur 16 en 35 jaar (38%).

Volgens Ncala is dié steekproef verteenwoordigend van die demografiese landskap in Suid-Afrika.

Hy sê voorts dit is duidelik dat dit nie meer voldoende en gepas is om van “goeie bedoelings” in die teenkorrupsiediskoers te praat nie.

“Sonder optrede beteken die stryd teen korrupsie nie veel vir diegene wat weens die gierigheid deur menseregtevergrype en onvoldoende dienslewering geteister word nie.

“Soos voorspel en gewaarsku, het die gewone man en vrou nie net vertroue in politici verloor nie, maar ook in staatsinstellings wat die rots van ons demokrasie vorm.”

Ncala sê verder dit is opvallend dat tussen 600 en 700 respondente se ervarings met korrupsie uit hul interaksie met amptenare spruit.

Geskenke en gunste vir amptenare

Dié respondente het aangedui dat hulle al omkoopgeskenke of gunste vir polisiebeamptes (24%), motorlisensiebeamptes (23%) en verkeersbestuursbeamptes (23%) gegee of gedoen het.

Sowat een uit elke 10 van dié respondente het al geskenke of gunste vir aanklaers (12%), verkose regeringsverteenwoordigers (11%), regters en landdroste (9%) gegee of gedoen.

Net meer as die helfte van al die respondente (54%) het aangedui dat hulle ’n beperkte begrip van teenkorrupsiewetgewing in die Suid-Afrikaanse konteks het, met net 27% wat voel hulle het ʼn goeie begrip daarvan.

“Dit beklemtoon ’n moontlike gaping in doeltreffende bewusmakings- en opvoedingsinisiatiewe.”

Ses uit elke 10 respondente het egter vertroue in die toereikendheid van die land se wette en beleide om korrupsie te pak en glo dat hulle ’n goeie begrip van teenkorrupsiewette het.

Respondente wat nie vertroue in die toereikendheid van hierdie wette en beleide getoon het nie, het ʼn beperkte (47%) of geen (35%) kennis nie van teenkorrupsiewette.

Rykes, bekendes ‘belangriker as gewone burgers’

Die studie het verder getoon dat die helfte van respondente glo dat instellings kwessies wat die welvarendes en invloedrykes raak, prioritiseer en die bekommernisse van gewone burgers verwaarloos.

Dít versterk persepsies van ongelykheid en eksklusiwiteit.

Net so het die helfte van respondente ook min vertroue in verkose en aangestelde amptenare uitgespreek.

Wanneer dit by gewone burgers kom, het respondente groter vertroue in die media, godsdienstige en geestelike instellings, regs-, ondersoek- en rekenmeestersfirmas om korrupsie te hanteer.

Hierdie organisasies het die hoogste gemiddelde tellings uit ʼn maksimum van vyf behaal.

Nie genoeg beskerming vir fluitjieblasers; te min gevolge vir amptenare

Die meeste respondente het saamgestem dat fluitjieblasers kwesbaar bly vir viktimisasie, geweld en moord (67%), met die wydverspreide persepsie dat fluitjieblaserinligting deur amptenare in die openbare sektor gekompromitteer word.

Dit vestig die aandag op kwessies van vertroulikheid en die beveiliging van individue wat korrupsie in staatsinstellings blootlê. Slegs 50% van die respondente glo dat fluitjieblaaskanale voorsiening maak vir vertroulikheid, sielkundige ondersteuning en die oplos van klagtes.

“Dit is betekenisvol dat 81% glo die regering nie genoeg doen om korrupsie in die verskaffing van basiese dienste te pak nie. Dit dui op ’n duidelike eis vir strenger gevolge vir korrupte staatsamptenare.

“Amper driekwart van die respondente (73%) het saamgestem dat korrupsie hoofsaaklik die voorsiening van behuising en grond, beveiliging van gemeenskappe (69%), die verskaffing van gehalte-onderwys (68) en toegang tot gehalte-gesondheidsorg (67%) raak. Dit het ook ʼn beduidende invloed op regspleging deur howe (64%) en voedselsekerheid (62%), aldus die verslag.

Dink mooi voor jy stem

Ncala sê die bevindings van die verslag is veral nou, in aanloop tot die nasionale verkiesing op 29 Mei, belangrik.

“Die vertrouensbreuk tussen verkose leiers en kiesers neem toe omdat verkose verteenwoordigers meestal lippediens lewer.”

Hy meen kiesers moet nou – voordat hulle stem – besin oor wat tydens die vorige verkiesing belowe is, met inagneming van al sy verspeelde geleenthede en korrupsieskandale.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

TO ·

Geen hoop, meld korrupsie aan by valke in mphumalanga. Word gesê ‘n kolonel sal my bel. Hoor niks, volg op, nou moet ek by ‘n plaaslike polisiestasie gaan aanmeld waar die offisier die skuldige bel voor jou en sê hier is ‘n persoon wat ‘n saak teen jou wil oopmaak. Hoe korrup

Tante Toekie ·

Ek het nie min vertroue nie, ek het absoluut GEEN vertroue nie

Theuns ·

Die gekke wat ramaposa bende cadres nie vertrou stem 90% einde Mei almal anc of eff.
Soort soek soort. Cadres sal nooit verander van party..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.