Mina Moo dood ná skielike terugslag

Mina Moo, soos die koei gedoop is, soos sy Saterdagoggend gelyk het na die traumatiese ervaring. Foto: Verskaf

Enkele ure nadat Maroela Media berig het oor die bemoedigende herstel van Mina Moo, die jong koei van Virginia in die Vrystaat wat sowat twee weke gelede tydens ʼn ure lange reddingsoperasie uit ʼn diep waterkanaal gered is, is die dier van kant gemaak nadat sy onverwags ʼn terugslag beleef het.

“Ons kan dit nie glo nie,” vertel ʼn verslae Thea Smit, voorsitter van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Virginia, aan Maroela Media. “Ek kan nie glo dat só iets van die een uur na die volgende kan gebeur nie.”

Smit het net vanoggend aan Maroela Media vertel dat die veearts meen daar is geen rede waarom Mina Moo nié ten volle sal herstel nie.

Volgens Smit het Mina Moo vermoedelik vog in haar longe gehad, maar tot nou geen teken daarvan gewys nie. “Inteendeel, dokter was so tevrede. Dít is die ding. Diere kan nie vir jou sê hoe hulle voel nie,” sê sy hartseer.

Mina Moo het vroeër vanmiddag begin swaar asemhaal. “Sy het eintlik skoon gebulk soos sy gesukkel het om die volgende asemteug te gee,” sê Smit.

Dr. Eddie Albertyn, ʼn veearts en deskundige in die veld van plaasdiere, het die moeilike besluit geneem om Mina Moo eerder van kant te maak. “Ek dink sy het langer uitgehou as wat sy sou in enige ander omstandighede. Ons wou nie hê sy moet ly nie,” sê Smit.

Sy vertel almal betrokke by Mina Moo se herstelproses is platgeslaan deur haar dood. Haar laaste twee weke van pamperlang bied egter ʼn mate van vertroosting vir almal in wie se hart sy ingekruip het.

Smit het vanoggend vertel dat Mina Moo daaglikse masseer is nadat sy gered is om haar bloedsomloop aan die gang te hou. Sy het in dié tyd skoon parmantig geword en die mans wat haar masseer het, geskop of met haar kop gestamp.

Dit is juis die blote gedagte aan dié masseerders wat Smit vir ʼn oomblik emosioneel laat. “Sy het deel van ons almal geword.”

Ten spyte van die onverwagse tragiese nadraai, glo Smit dat Mina Moo se reddingsoperasie nie verniet was nie. “Sy het ’n gemeenskap saamgebring wat omgee vir mens en dier. Sy het bewys dat enige lewe die moeite werd is om te red. Dit was nie verniet nie,” sê sy.

“Daar is ʼn baie groter doel ongeag die hartseer dat dit nie uitgewerk het soos ons wou gehad het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Ag nee ·

Maar ek het dan nou net gelees dit gaan goed met haar! Rus in Vrede Mina Moo. Hoop jy sal ‘n waardige begrafnis kry na al die suffering.

honourable member ·

Die arme dier het seerder gekry met die val in daai gat as wat mens gedink het. Dankie vir die DBV wat probeer het om haar te red.

Thinus Erasmus ·

Soms moet die regte besluit in die eerste plek geneem word – dis onvermydelik.
Ek het man geken wat weke na mynongeluk op hierdie wyse gesterf het, skielik en onverwags na amper verdrinking.

jean ·

Ag ou Mina….mag die gras sagter en soeter wees daardie kant as hier…….

Lee ·

Ai dis so hartseer. Rus Sag liewe Mina Moo. Jou laaste dae was darem gelukkig en jy was goed bederf. xx

Helene ·

Ai ek is nou baie hartseer oor hierdie nuus! Rus sag liewe Mina Moo~ Dankie vir die baie liefde wat sy ontvang het van haar redders!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.