Mina Moo herstel goed ná noue ontkoming

[OPVOLG] Enkele ure nadat Maroela Media berig het oor die bemoedigende herstel van Mina Moo, is die koei van kant gemaak nadat sy vroeg Donderdagmiddag onverwags ʼn terugslag beleef het. Lees die opvolgberig hier.

Mina Moo, soos die koei gedoop is, soos sy Saterdagoggend gelyk het na die traumatiese ervaring. Foto: Verskaf

Daar is glo geen rede waarom die jong koei van Virginia in die Vrystaat wat sowat twee weke gelede tydens ʼn ure lange reddingsoperasie uit ʼn diep waterkanaal gered is, nié ten volle sal herstel nie.

Dié Brahmankoei, wat kort ná die reddingsoperasie Mina Moo gedoop is, toon goeie vordering by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Virginia waar sy daagliks behandel, gevoer en masseer word.

Thea Smit, voorsitter van die DBV in Virginia, het Donderdag aan Maroela Media gesê hoewel Mina Moo nog nie kan staan nie, gaan dit goed met haar ná haar aaklige ervaring. Smit sê Mina Moo word in ʼn hoësorgeenheid met die hand gevoer en haar bene word daagliks al om die uur sorgvuldig masseer. “Onthou, sy het vir vier dae lank in water gestaan. Hoewel dit ʼn wonderwerk is dat sy oorleef het, was dit traumaties.”

Dr. Eddie Albertyn, ʼn veearts en deskundige in die veld van plaasdiere, het Mina Moo sorgvuldig ondersoek en vasgestel dat sy nie enige beserings tydens haar noue ontkoming opgedoen het nie. “Hy is baie tevrede met wat ons vir haar doen en sê dat sy maar net swak is. Sy het net tyd nodig om te herstel. Daar is glo geen rede om te glo dat sy nie ten volle sal herstel nie,” sê Smit.

Die reddingsoperasie. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig Mina Moo het in ʼn ondergrondse waterkanaal beland nadat sy by ʼn groot oop mangat ingeval het. Sy het minstens 3 km ver al langs dié kanaal gestap, maar daar was geen manier om op haar eie uit te kom nie en sy was drie dae lank in die kanaal vasgekeer.

Mina Moo is gevind nadat ʼn jong seun van die gemeenskap haar in die kanaal hoor bulk het. Die Virginia-gemeenskap het dadelik ingespring om te help en sy is uiteindelik deur ʼn uitgebreide en ingewikkelde reddingsoperasie met ʼn hyskraan uit die kanaal gelig.

Smit sê die reddingspan is ook betrokke by Mina Moo se herstelproses en help gereeld om haar te lig en te draai. Dit is nodig om bloedtoevoer na haar organe aan die gang te hou.

Sy vertel Mina Moo word by die dag meer snoep en parmantig. “Sy skop die manne wat haar masseer en het sommer een van haar masseerders met die kop gestamp. Maar ons verwelkom dit, want dit beteken sy word beter,” sê Smit.

Sy vertel sy het gehoor die Brahman-ras raak vinnig bederf en meen dit is beslis die geval met Mina Moo wat gulsig vreet wanneer sy gevoer word.

“Die voer sal later al hoe verder van haar af gesit word, sodat sy nie té veel bederf nie. Kom ons hoop sy word moeg vir al die papperlang en staan uiteindelik op,” lag Smit.

“Ons het baie lief vir en geheg aan haar geraak. Sy klim in almal se harte. En natuurlik verwelkom sy al die aandag.”

Smit sê dit gaan nog ʼn hele tydjie duur voordat Mina Moo ten volle herstel het en het gevolglik ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om die DBV te ondersteun. “Ons doen tans alles uit ons eie rekening, maar met al die moeite wat ons gemeenskap gedoen het om haar te red, gaan ons nié opgee voor ons nie alles in ons vermoë vir haar gedoen het nie.”

Enigiemand wat die Virginia DBV wil bystaan met finansiële skenkings vir Mina Moo se sorg en behandeling kan hulle by 079 776 1153 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Moet asb nie vir Mina Moo opeet nie ·

Mense moet asb nie eendag vir Mina Moo slag en braai nie groot asseblief.

Alida ·

Oe NEE dit mag nie gebeur nie. Mens eet nie dier met n naam nie NOOIT.

Kyk mooi na haar ·

Ek stem saam Alida laat die koei haar lewe geniet en elke dag lekker sappige groen gras eet. Mense mag haar nooit opeet nie al word sy hoe mollig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.