Minagting-saak teen Denel eers later aangehoor

Werkers van Denel het Woensdag oor hul uitstaande salarisse betoog. (Foto: Solidariteit)

Die vakbond Solidariteit se saak van minagting van die hof teen Denel is tot laat volgende maand uitgestel.

Solidariteit sleep die sukkelende wapenvervaardiger hof toe namens sy lede wie se agterstallige salarisse steeds nie betaal is nie.

Denel moes die geld ingevolge ʼn hofbevel reeds teen 7 Augustus betaal het. Weens sy versuim om dit te doen, het Solidariteit ʼn saak van minagting van die hof teen Denel aanhangig gemaak.

Die hof het Donderdag beslis dat Denel se direksie die kans moet kry om op Solidariteit se eedsverklaring te reageer.

“Ons is teleurgesteld, maar eerbiedig die regter se beslissing,” het Helgard Cronjé, sektorkoördineerder van lugvaart en verdediging by Solidariteit, gesê.

“Ons sal op 27 Januarie terug wees in die hof om verder vir ons lede en dit wat hulle toekom, te baklei. Ons voel jammer vir ons lede, die onskuldige werkers by Denel, wat steeds minder as die helfte van hul salarisse kry en die werklike slagoffers van hierdie toedrag van sake is.”

Lede van Solidariteit by Denel het Woensdag by die wapenvervaardiger se kantoor in Irene betoog teen Denel se versuim om hul volle salarisse te betaal.

Die vakbond het gesê werkers verkeer onder geweldige geldelike druk, met sommige werkers wat hul huise en motors weens die verlies aan inkomste verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

netek ·

My Pa het daar jare gelede daar gewerk, en draai in sy graf om as hy sien hoe die plek agter uitgaan. Hy het Denel op Boskop help bou, en sy “plant” was die laaste wat opgerig is. Die groot reus wat nou niks beteken nie. Hoe hartseer.

Johann ·

En die verandwoordelik vir die verval van NOG n eens Wêreld toonaangewende besigheid loop los rond sonder enige verandwoordbaarheid! ANC LEGACY om van die een plek na die volgende te loop en vergryp en verwoes.

Willem ·

Maak Denel toe!!!!!Van anc oorgevat het kan hul nie eers ketties en pyl en boë vervaardig nie!Toe dit nog Krygkor was en in wit besit was dit een van die magtigste militere krygstuig vervaardigers in die wêreld!!!!Noú is dit een groot disaster staatsentiteit,die anc clowns!!!!!

Stefan ·

Hulle het nie versuim om te betaal nie, hulle hèt eenvoudig nie die geld nie.
Dis 1 van die kenmerke van bankrotskap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.