Minder bek-en-klouseer-gevalle nou in SA

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die stryd teen die verspreiding van bek-en-klouseer in Suid-Afrika is skynbaar nie tevergeefs nie, aangesien die verspreidingsgebied kleiner is as toe die siekte aanvanklik vroeër vanjaar vlamgevat het.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het wel Woensdag gesê dat die verspreiding nie heeltemal bekamp is nie en dat dit steeds elders voortduur. Dié verspreidings word egter goed bestuur om die gevalle onder beheer te hou.

In een van die jongste gevalle het bek-en-klouseer na ʼn veiling en drie plase in die Vrystaat en Gauteng versprei, maar dié uitbreking is reeds suksesvol beheer. Die plase is skoongemaak en die aangetaste gebiede is behandel.

“Hierdie verspreiding sal amptelik bekamp word wanneer die ontsmettingsproses finaal afgehandel is,” het die departement in ʼn verklaring gesê.

Vyf nuwe gevalle van bek-en-klouseer is die afgelope twee weke in KwaZulu-Natal aangemeld. Dit bring die getal aangetaste veediptenke op 66 te staan.

“Inentings in die provinsie gaan voort met meer as 190 000 diere wat sedert die begin van die inentingsveldtog in Maart ingeënt is.”

In Limpopo is altesaam agt positiewe gevalle in die Thulamela-omgewing geïdentifiseer, sedert die siekte in April in die provinsie uitgebreek het. Die departement sê hy hou streng toesig oor die plase in die siektebestuursgebied en dat die eerste ronde inentings reeds einde Mei voltooi is.

Die uitbrekings in Limpopo en KwaZulu-Natal is sodanig versprei dat dit moeilik is om individuele plaaskwarantyne af te dwing, daarom is albei provinsies tot bek-en-klouseer-beheergebiede verklaar. Amptelike riglyne vir bewegingsbeheer is ook beskikbaar om die bewegings van die siek diere te monitor.

Die gevalle in Noordwes het die afgelope twee weke ook toegeneem en staan nou op 14. Al die betrokke eiendomme en aangrensende persele is nog onder kwarantyn sedert die nuwe gevalle aangemeld is. Inentings word ook hiér toegedien om die viruslading te verminder.

Dit het egter onlangs aan die lig gekom dat ʼn aantal buffels in die Hluhluwe uMfolozi-park in KwaZulu-Natal teenliggaampies teen bek-en-klouseer het.

“Dít is ʼn ernstige uitdaging, aangesien buffels permanente draers van die siekte is sonder om kliniese tekens te toon.” Buffels kan moontlik ʼn rol speel in die instandhouding en verspreiding van hierdie siekte na vee.

Die departement het reeds ʼn vergadering met die betrokkenes gehou om die onderskeie moontlikhede te bespreek en sodoende die beste pad vorentoe te bepaal. Die park ondergaan intussen serologiese toesig om die status van die res van die buffels binne die park te bepaal.

“Alle boere en vee-eienaars word opnuut aangemoedig om hulself te beskerm deur biosekerheidsmaatreëls op hul plase toe te pas en slegs gesonde diere van bekende en betroubare bronne te koop,” het die departement gesê.

“Bestuurders van plase en voerkrale word ook aangeraai om nuwe diere te isoleer voordat hulle by die inwonende kuddes gevoeg word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Daar is nou net Phaala- Phaala laudriastus dollorius parasiete oor naby Bêla-Bêla

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.