Minder Coke teen dieselfde prys

Coca-cola (Foto: Pixabay)

Coca-Cola Suid-Afrika het Vrydag bevestig dat hulle ʼn verandering aan die verpakking van twee van dié maatskappy se produkte aangebring het.

Roger Gauntlett, algemene bestuurder van Coca-Cola Suid-Afrika, het gesê verandering aan die verpakking van produkte is “nie ongewoon nie”.

Die produkte in aanmerking is onder meer die 500ml Coke-botteltjie, ook bekend as ʼn “buddy”, en die 330ml-blikkie. Liefhebbers van dié gaskoeldrank sal voortaan net 440ml Coke in die botteltjie kry en 300ml-Coke in die blikkie.

Die maatskappy het bevestig dat die pryse van albei produkte dieselfde sal bly.

Talle sosialemediagebruikers het die maatskappy vandeesweek daarvan beskuldig dat hy dié verandering sonder enige behoorlike advertensie gedoen het en boonop ook dat hy gebruikers “uitbuit” deur die prys dieselfde te hou.

“Dit is uitbuiting in die ergste graad,” het Joey Basson op Facebook geskryf. “Suikerbelasting word as verskoning voorgehou.”

“Hierdie verandering is nie ongewoon nie en ons pas gereeld ons pryse, verpakking en produkte aan om aan te pas in ekonomiese marktoestande en verbruikersaanvraag,” het Gauntlett gesê.

Hy sê die maatskappy vra onvoorwaardelik om verskoning dat hy nie “so duidelik was oor die veranderings” soos wat hy veronderstel was om te wees nie.

“Ons kon die verandering beter aan ons verbruikers gekommunikeer het by onderskeidelik die verkooppunte en deur die media. Ons maatskappy bly egter verbind daartoe om Suid-Afrikaners te bedien met die keuse van die drankies wat hulle geniet.”

Die maatskappy het nie onmiddellik gereageer op ʼn navraag of dié verandering met suikerbelasting te doen het nie. Die maatskappy het egter vroeër gesê hy beoog om tussen 22%-24% minder suiker in sy produkte te gebruik teen die einde van 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.