Minder eintlik in oorstromings dood

Grootskaalse soek-en-reddingsoperasies in KwaZulu-Natal duur voort. (Foto: eThekwini-metro/Facebook)

Die dodetal ná die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal is na 435 aangepas van die aanvanklike syfer van 448. Dit nadat nadoodse ondersoeke bevind het van die slagoffers is weens skietwonde of aan natuurlike oorsake dood.

Nadoodse ondersoeke op vier van die liggame wat die polisie ná die oorstromings opgespoor het, het aangedui dat die slagoffers skietwonde gehad het, het Bheki Cele, minister van polisie, Donderdag gesê. Drie van die liggame is in die Pinetown-omgewing en nog een in die Sydenham-omgewing gevind.

Die geregtelike doodsondersoeke wat aanvanklik gedoen is, is nou na moordsake omgeskakel.

Nog nege mense is aan natuurlike oorsake dood wat nie met die ramp verband gehou het nie. Daar is ook ʼn onbevestigde aantal mense wat nog vermis word, sê Cele, ook voorsitter van die regering se veiligheidsgroepering (JCPS).

Terwyl redding- en herwinningsoperasies voortduur, word nog liggame in veral die omgewing van Umzinyathi, Hammarsdale, Reservoir Hills, Hamburg en die Henleydam gevind.

‘Stadige reaksie’, plundering

Cele het teruggekap oor kritiek dat die regering se reaksie op die oorstromings “te stadig” was. Meer as 4 800 polisielede is in KwaZulu-Natal ontplooi, onder wie 3 000 lede van sigbare polisiëring, openbare orde, speurders, misdaadintelligensie, die taktiese reaksiespan en soek-en-reddingseenheid.

Lede van die polisie se openbare orde-eenheid, sowel as dié by sigbare polisiëring, is ontplooi om “opportunistiese misdaad” in brandpunte soos Umlazi, Kwamashu, Pinetown en die Durbanse middestad te voorkom.

Sleutel- nasionale roetes word ook fyn dopgehou, terwyl die intelligensie-koördineringskomitee wetstoepassingsowerhede deurlopend op die hoogte hou van die veiligheidsituasie in die provinsie.

Twee winkels in Umlazi is verlede week geteiken. By ʼn Boxer-winkel het boosdoeners die kleinhandelaar begin plunder met die polisie wat hul kort daarna gestuit en 14 mense in hegtenis geneem het. Hulle is steeds agter tralies.

Boewe wat ʼn USave-winkel probeer plunder het, is gestuit sonder dat enigiets gebuit is, sê Cele.

Die polisie werk ook nou saam met private veiligheidsmaatskappye om enige ander pogings tot plundering te voorkom.

Met verwysing na ʼn video wat wyd op sosiale media versprei is en waarin gesien kan word hoe ʼn groep mense op ʼn vragmotor van Shoprite toesak, sê die minister mense was in die omgewing besig om oor dienslewering te betoog en húlle het die vragmotor voorgekeer.

“Die polisie was dadelik daar en nie eens ʼn gram suiker is van die vragmotor geneem nie. Die polisie het ook die vragmotor verder begelei,” sê Cele.

Nadat swaar reën verlede week oor die gebied uitgesak het, is helikopters van die polisie, die lugmag, die padverkeersinspektoraat en die land se haweowerheid binne die eerste dag of twee ontplooi om te help.

Vyftig skoolkinders wat by hul skool in Molweni weens vloedwater vasgekeer was, is dieselfde dag gered nadat die provinsiale polisiehoof die nasionale polisiehoof gebel en dié dadelik ʼn helikopter daarheen gestuur het. Dít omdat die polisie se lugvleuel in die gebied aanvanklik self onder water was, sê Cele.

Die weermag het nog drie helikopters gestuur, terwyl almal van die eThekwini-metropolisie, rampbestuurspanne, nooddienste, die weermag, die polisie en departement van binnelandse sake ook by die reddingspogings betrek is, sê die minister.

Net die polisie se soek-en-reddingspanne bestaan uit meer as 50 ervare polisieduikers, 17 honde en 21 vaartuie soos bote en vlotte, sê Cele.

Altesame nege vliegtuie en helikopters – wat onder meer ingespan word om hulppakkies na onbereikbare gebiede te neem – van die polisie en weermag word gebruik, terwyl ander rolspelers dienste soos dié van paramedici, reddingstegnici, strukturele ingenieurs, helikopter- en hommeltuigvlieëniers en selfs chirurge aangebied het.

Die weermag voorsien ambulanse, terwyl dokters, verpleërs, sielkundiges, maatskaplike werkers en aptekers ook na die rampgebiede gestuur is.

Die departement van binnelandse sake sal ook mense wat dokumente in die oorstromings verloor het, se dokumente gratis vervang.

Hulp word ook na die Oos-Kaap en enige van die ander provinsies wat moontlik geraak kan word, uitgebrei.

“Ons bly waaksaam en gereed om te reageer in die Vrystaat, Limpopo en Noordwes waar moontlike oorstromings voorspel word,” sê Cele.

Die minister het Suid-Afrikaners vir hul gees van ubuntu bedank en het gevra vir geduld en samewerking terwyl die hulpverlening voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanEtz

Niemand kan glo wat Cele uiter nie.
Trok vol kruideniersware het niiks met dienslewering te doen nie!!

tierwyfie

Plunderaars moet summier doodgeskiet word dan sal dit dalk ophou. Tronke is oorvol van skelms wat beter versorging as baie bejaardes kry.

Swerwer

Ek wonder waarom Hoed in sy afwesigheid skitter wanneer die blanke en kleurling gemeenskappe onder die ander wesens moet ly maar vol tirade is wanneer dit by sy wesens kom .

Adri

As ‘n mens na hom luister, het ons die beste polisiemag ter wêreld!!! Ai, was dit tog die waarheid!