Die algehele waarde van nuwe krediet wat aan Suid-Afrikaanse verbruikers toegestaan is, het van Maart tot Junie vanjaar met 56,72% afgeneem – ʼn afname van R126,35 miljard tot R54,68 miljard.
Dít terwyl die getal kredietooreenkomste wat sedert die vorige kwartaal aangegaan is, met effens minder as die helfte afgeneem het. Dit het gedaal van 3,93 miljoen ooreenkomste in die vorige kwartaal tot 2,05 miljoen in Junie.
Die landwye staat van afsondering het in Maart in werking getree en miljoene Suid-Afrikaners moes noodgedwonge tuis bly in ʼn poging om die verspreiding van Covid-19 te help stuit. Die afsonderingstydperk het egter ʼn groot uitwerking op baie mense se finansies gehad.
Die nasionale kredietreguleerder (NKR) het vandeesweek sy kwartaallikse verbruikerskredietmarkverslag en die kredietburomonitor bekend gestel, verslae wat gegrond word op data wat kredietverskaffers en -buro’s by die NKR indien.
Van die mees beduidende neigings is dat:
- Die waarde van nuwe lenings op ʼn kwartaallikse basis met R25,95 miljard (66,65%) gedaal het, terwyl dit op ʼn jaargrondslag met R27,2 miljard (67,69%) afgeneem het.
- Gesekureerde krediet – wat oorheers word deur voertuigfinansiering – kwartaalliks met R18,57 miljard (47,51%) afgeneem en op ʼn jaargrondslag met R20,69 miljard (50,22%) verminder het.
- Kredietfasiliteite kwartaalliks met R9,71 miljard (50,53%) verminder en op ʼn jaargrondslag met R11,6 miljard (54,97%) gedaal het.
- Ongesekureerde krediet op ʼn kwartaallikse basis met R15,1 miljard (59,64%) verminder en jaarliks met R18,42 miljard (64,32%) afgeneem het.
- Die uitstaande verbruikerskredietbalans teen Junie vanjaar op R1,96 biljoen gestaan het, ʼn daling van 0,94% sedert die vorige kwartaal, maar ʼn styging van 3,09% sedert die vorige jaar.
Die NKR sê verbruikers wie se skuld in goeie status is, het met meer as ʼn halfmiljoen afgeneem tot 16,96 miljoen verbruikers.
Die getal aktiewe kredietrekeninge is effens minder, terwyl die getal rekeninge waarop probleme aangemeld is, van 19,88 miljoen (23,12%) tot 20,66 miljoen (24,24%) in Junie vanjaar toegeneem het. Dit is ʼn styging van amper 780 000 rekeninge sedert die vorige kwartaal.
Volgens die NKR is minder kredietverslae boonop die afgelope paar maande aan verbruikers beskikbaar gestel. Dit het van 240 688 in die vorige kwartaal tot die huidige 217 743 afgeneem. Meer as 29 000 mense het dispute oor die inligting op hul kredietrekords aanhangig gemaak. Dit was ʼn daling van meer as 26% sedert die vorige kwartaal.
Kredietburo’s het in hierdie stadium rekords van byna 27 miljoen kredietaktiewe verbruikers, ʼn daling van 3,6% in vergelyking met die 27,99 miljoen in die vorige kwartaal.
Nomsa Motshegare, uitvoerende hoof van die NKR, sê verbruikers wat sukkel om kop bo water te hou met hul terugbetalings moet hul kredietverskaffers kontak om laer terugbetalings te probeer beding, of een of ander vorm van hulp te vra om hul skuld te delg.
Indien dít nie werk nie, kan verbruikers ʼn geregistreerde skuldberader om hulp nader.
Sy raai verbruikers met kredietlewensversekering ook aan om eise in te dien. Dié soort versekering betaal ʼn verbruiker se skuld sou die persoon onder meer sterf, afgelê word of sy werk verloor, nie ʼn inkomste kan verdien nie, of ʼn gestremdheid ontwikkel.
Niel Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue, het vroeër gewaarsku daar is ʼn beduidende toename in die getal Suid-Afrikaanse verbruikers wat diep in die skuld is.
Volgens Roets was daar maandeliks ʼn styging van 54% in die getal verbruikers wat aansoek vir skuldhersiening gedoen het. Die sogenaamde betalingsvakansies wat finansiële instellings aan verbruikers toegestaan het, begin ook ʼn al hoe groter tol eis.
Roets sê dit het veroorsaak dat lenings nou so opgeblaas geraak het, dat talle verbruikers nie meer hul skuld kan bybring nie.