Minder mense sterf dié feesseisoen op SA se paaie

 Foto ter illustrasie. Argieffoto.

Die departement van vervoer het ʼn voorlopige verslag oor die aantal padsterftes die afgelope feesseisoen bekendgemaak.

Volgens die departement is 1 676 mense van 1 Desember 2017 tot 15 Januarie 2018 op die land se paaie dood.

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het Maandag tydens ʼn mediakonferensie in Pretoria gesê dit is ʼn afname van sowat 11% en dat dit sy departement se aanvanklike teiken van 10% oortref. Dit kom te midde van ʼn langer vakansietydperk en meer geregistreerde voertuie en bestuurders op die paaie.

Die departement het ook die getalle padsterftes vir die korter vakansietydperk van 2016/2017 met 2017/2018 vergelyk en dit het ook ʼn afname van sowat 11% getoon. In die tydperk 1 Desember 2016 tot 9 Januarie 2017 het 1 714 mense op Suid-Afrikaanse paaie gesterf in vergelyking met die 1 527 oor dieselfde tydperk die afgelope feesseisoen.

Al die provinsies, behalwe die Wes-Kaap en Noordwes, het ʼn afname in die aantal padsterftes getoon. Volgens Maswanganyi was die hoogste aantal padsterftes onder voetgangers, wat van 34% tot 37% toegeneem het.

“Spoed bly ook vir ons ʼn groot kopseer met 922 bestuurders wat in die feestyd in hegtenis geneem is teenoor die 785 in die 2016/2017-tydperk. Vyf motoriste wat meer as 220 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery het, is in Gauteng, Limpopo, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap vir dié oortreding vasgetrek,” het Maswanganyi gesê.

Minder mense is ook vir dronkbestuur oor die feestyd in hegtenis geneem. Altesaam 5 943 motoriste is in 2016/2017 aangekeer terwyl 3 301 tydens dieselfde tydperk in 2017/2018 in hegtenis geneem is.

Die getal sterftes onder voertuigbestuurders het toegeneem: van 23% na 27%, maar daar was ʼn afname van 41% na 35% in die aantal passasiers wat omgekom het. Maswanganyi het gesê dit is ʼn bewys daarvan dat as mense veiligheidgordels dra, lewens gered kan word.

Hy het wetstoepassers en motoriste bedank vir hul samewerking om paaie veiliger te maak, maar het gesê dat sy departement nie te lank by die sukses sal stilstaan nie.

Maswanganyi het gesê asemanalisesentrums sal in al nege provinsies op die been gebring word sodat mense wat onder die invloed bestuur nog vinniger vervolg kan word. Daar sal ook nog meer halfwegstasies op alle nasionale paaie opgerig word waar bestuurders van openbare vervoer en vragmotorbestuurders veilig ʼn blaaskans kan neem.

“Ons sal ons fokus op dronkbestuurders, spoedvrate en nalatige bestuurders verskerp, terwyl ons ook sal verseker dat daar sewe dae per week 24 uur-skofte vir verkeerswetstoepassers ingestel word,” het hy bygevoeg.

Thomas Kaunda, LUR vir verkeer in KwaZulu-Natal, het gesê dié soort verhoogde sigbaarheid van wetstoepassers het beslis daartoe bygedra dat die provinsie, wat verlede jaar die hoogste getal padsterftes aangemeld het, ʼn 10%-vermindering in vanjaar se syfers kon toon.

Volgens Donald Grant, LUR vir verkeer in die Wes-Kaap, het die verkeerspolisie in die provinsie meer as 44 000 mense getoets vir dronkbestuur en gevind net 0,44% bestuur het onder die invloed in dié provinsie. “Motoriste het dus gehoor gegee aan ons veldtog wat gewaarsku het dat alkohol en die pad nie pasmaats is nie.”

Grant het bygevoeg dat die provinsie veral bekommerd is oor die hoë aantal voetgangers wat op die Wes-Kaapse paaie die afgelope vakansietydperk gesterf het. “Sowat 61% van padsterftes was voetgangers. Ons gaan die gebiede waar die voetgangers gesterf het op ʼn kaart aandui en saam met plaaslike owerhede werk om aandag te gee aan die probleem. Ons weet ook dat die gebruik van alkohol dikwels met dié soort sterftes saamgaan – ons sal ook aandag aan dié probleem gee.”

Volgens Maswanganyi sal die volledige verslag oor die getal padsterftes vir die feesseisoen ook verduidelik presies waaraan die sterftes toegeskryf kan word. Die minister het egter nie ʼn datum verskaf waarop dié verslag beskikbaar gestel sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.T. ·

Voetgangers is ‘n groot probleem. Hulle moet opgevoed word om nie in die strate te stap nie, maar sypaadjies te gebruik. Dis groot kopseer. En hoekom moet voertuigbestuurders altyd die skuld dra? Beboet voetgangers wat in strate stap ook. Hulle het ook ‘n verantwoordelikheid. Hulle betaal in elkgeval nie lisensiegeld nie.

Omdat ·

Omdat voetgangers tien teen een nie ‘n bestuurslisensie het besef hulle nie die gevare wat hulle veroorsaak. Neem as voorbeeld waar daar op ‘n linksomdraai letterlik in die pad gestaan word en die motoris sy lyn drasties moet wysig om om die voetganger te ry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.