Minder moorde, meer aanvalle op plase in 2018

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dié organisasie verskerp sy veldtog om plaasaanvalle hok te slaan. Foto: Verskaf

Die aantal plaasmoorde het in 2018 afgeneem, maar die voorkoms van aanvalle op plase het skerp toegeneem.

Dit dui daarop al word die probleem erger, sien mense beter om na hul veiligheid en verdedig hulle hulself beter.

Dis van die bevindings wat AfriForum Dinsdag op ’n mediakonferensie in sy hoofkantoor in Centurion bekendgemaak het.

In ʼn ontleding deur AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling is bevind nagenoeg 432 plaasaanvalle en 54 plaasmoorde het tydens 2018 voorgekom. Dis meer as een aanval per dag en meer as ʼn moord per week.

“Die plaasgemeenskap baklei terug,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. “Gevolglik neem die aantal plaasmoorde af. Meer slagoffers skiet terug, meer word opgelei en meer verdedig hulself.

Daar is ’n toenemende aanslag op mense op plase.

“Die getalle dui aan hoewel meer mense oorleef, is daar ’n toenemende aanslag op mense op plase. Ons sien dat goed georganiseerde gemeenskapsveiligheidstrukture ’n ystervuis vir gemeenskappe word en as afskrikmiddel vir bedreigings dien.”

Cameron meen dat AfriForum se 132 gemeenskapsveiligheidstrukture en sowat 8 500 aktiewe veiligheidslede toenemend gerusstelling aan gemeenskappe bied en hulle weerbaar maak.

Landwyd poog verskeie ander strukture ook om dit te bewerkstellig, maar deel van die sukses van AfriForum se strukture lê volgens hom daarin dat hulle deel uitmaak van ’n suksesvolle nasionale netwerk waar eenheid ’n belangrike rol speel. Dit dra by tot ’n toename in sukses.

Die organisasie sal sy veldtog teen plaasmoorde in die komende jaar met verskeie aksies verskerp, het Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. Dit sluit optredes op plaaslike, nasionale en internasionale vlak in.

AfriForum se aksieplan teen plaasmoorde vir 2019 behels:

Plaaslik

  1. ’n Plaasveiligheidsoudit sal onder AfriForum se lede gedoen word, ingevolge waarvan die risiko van plaasaanvalle geminimaliseer sal word.
  2. Pertinente fokus sal gedurende 2019 daarop geplaas word om die bestaande veiligheidstrukture te versterk deur dit doeltreffender te maak en groter samewerking tussen veiligheidstrukture te bewerkstellig.

Nasionaal

  1. AfriForum sal die Wilmien Potgieter-fonds na verwagting op 1 Februarie van stapel stuur. Die doel daarvan is om kinders wie se lewe deur plaasaanvalle geraak is, geldelik by te staan.
  2. AfriForum is van voorneme om ’n voorlegging in die parlement te doen oor die uitwerking van plaasmoorde en stappe wat die regering kan doen om dit aan te pak.

Internasionaal

’n Opvolgskakeltoer na die VSA sal onderneem word. Vir doeleindes van hierdie toer sal die Elie Wiesel Genocide and Atrocities Prevention Act, wat deur Amerika se pres. Donald Trump onderteken is, bestudeer word vir moontlike aanwending. ’n Bekendstellingsfunksie van Ernst Roets se boek Kill the Boer sal gedurende hierdie besoek in Washington, DC, gereël word. Mariandra Heunis, wie se man in 2016 voor haar en een van haar kinders vermoor is, sal die besoek meemaak om in die breë die slagoffers van plaasaanvalle in Suid-Afrika te verteenwoordig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Andre ·

Baie goeie werk Kallie, Ernst, Ian en die res van Afriforum. Niemand gaan na ons kyk as ons dit nie self doen deur middel van organisasies soos julle nie

Ian ·

Daar moet meer aandag geskenk word aan voorkoming in diepte, onder andere deur tegnologie. Dit skep vroee waarskuwing, waaroor dit alles gaan. Hommeltuie, saam met die aanwending van infrarooi en seismiese sensors.

Jerry ·

Daar kan geen groter vreugde vir n Afrikaner wees as om te verneem dat alhoewel plaasaanvalle toeneem, plaasmoorde drasties afneem, omrede die opleiding begin vrugte afwerp en die boere begin terugskiet. Geen volk kan oorleef sonder n skerpkant nie en noudat julle dit besef moet hierdie skerpkant sommer nog baie skerper gemaak word.

ZAR ·

Dankie Afriforum. Ek is trots op julle. Dit was harde werk, maar saamstaan pluk uiteindelik vrugte.

Annie Webb ·

Puik gedaan, AfriForum! Sterkte vorentoe met al julle inisiatiewe!

Rob ·

Ek hoop regtag, dat Barry en Bull Terrier gaan ook vir die doods kis twee help.

Herman ·

Aan Maroela media.

Ek vlieg gereeld en sien nog steeds nie Kill the Boer op winkelrakke in lughawens nie, al soek ek daarvoor.

Is dit nie die perfekte plek om die boek in die hande van die wereld te kry nie?
Dis al waneer ek in boekwinkels kom om my kopie te kry.

kollie ·

Afriforum klop homself op die skouer nadat die aanvalle skerp toegeneem het. Ek verstaan nie so mooi nie.

Grysburger Pretoria ·

Uitstekend dat die skerp kant van die swaard aangewend word vir selfverdediging. Hierdie suksesse is natuurlik daarvoor verantwoordelik dat beide die minister sowel as adjunk-minister van polisie, asook die bestuur van die polisie, nou alles in die stryd wil werp om die privaatbesit van vuurwapens onmoontlik te maak. Uiteraard kom hulle agter die werksomgewing van hul kamerade raak moeilik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.