Minder moorde ná ontplooiing van weermag in Wes-Kaap

‘n Weermaglid op patrollie op die Kaapse Vlakte. (Foto: Phando Jikele/ANA)

Die moordsyfers vir die Kaapstadse metrogebied het reeds afgeneem sedert weermaglede verlede week in verskeie gemeenskappe op die Kaapse Vlakte ontplooi is.

Die stad se forensiese patologiedienste het die afgelope naweek altesame 25 moorde aangeteken, in vergelyking met 43 verlede naweek en 55 twee naweke gelede.

Uit die 25 vermoorde slagoffers is 18 doodgeskiet, vier doodgesteek en drie het weens ander oorsake gesterf. Drie mense is die naweek in Mitchells Plain doodgeskiet en twee sterftes is in Khayelitsha aangeteken, het die Wes-Kaapse regering Maandag gesê.

Die weermag is die naweek saam met die polisie in gebiede soos Hanover Park en Manenberg ontplooi. Talle inwoners daar het gesê die naweek het grootliks vreedsaam verloop.

Die weermag word veral ontplooi in gebiede wat deur bendegeweld geteister word.

“Die 25 moorde is steeds te veel, maar ons is dankbaar om te sien dat die weermag se teenwoordigheid wél ʼn uitwerking het in gemeenskappe wat moeg is vir misdaad en wat in vrees leef,” het Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, gesê.

Lede van die weermag kom in Blikkiesdorp in Delft aan. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Hy het gesê die provinsie werk aan ʼn langtermynplan om die grondoorsake van misdaad uit te wis, om ekonomiese geleenthede te skep en om dienste te verbeter in gebiede wat swaar onder misdaad gebuk gaan.

“Ek neem kennis dat daar ʼn afname was in die getal beweerde moorde wat die Soutrivier-lykshuis aangeteken het sedert die aankondiging oor die weermag se ontplooiing gedoen is en die lede ontplooi is, maar een moord is een moord te veel,” het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, gesê.

“Gister is ʼn konstabel, wat maar 32 jaar oud was, doodgeskiet. Twee van sy kollegas is in ʼn daaropvolgende skietery in Delft gewond.

“Ek wil die polisie gelukwens met die flinke inhegtenisneming van die verdagte en omdat hulle die polisie se teenwoordigheid in die gebied ná die skietery verhoog het. Ek doen ʼn beroep op inwoners om die polisie te help deur aan te meld waar gevaarlike misdadigers en onwettige vuurwapens is,” het Fritz gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LR ·

Dis beter as in hulle barake lê en niks doen nie. Hulle word in elk geval salarisse betaal. Nou gaan hulle n bietjie ekstra brandstof gebruik.

GM ·

Hulle het aangekondig van wanneer tot wanneer die weermaglede daar gaan wees, dan nie? So enige krimineel wat sy sout werd is, sal mos nou laaglê tot die troepe weer verkas. En onwettige wapens en ammunisie (ens.) is seker alreeds na ander plekke toe verskuif.

schaun ·

Dan werk dit mos ontplooi hulle op die platteland ook dalk net dalk verminder die aanvalle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.