Minder noodgevalle in Desember

(Argieffoto: ER24)

ER24 het gesê ʼn opname het bevestig dat minder noodgevalle – padongelukke, brand- en verdrinkingsvoorvalle –Desember aangemeld is in vergelyking met dieselfde maand die vorige jaar.

ʼn Totaal van 31 brandvoorvalle is in Desember by ER24 aangemeld, teenoor die 41 voorvalle die vorige jaar. Sowat nege brandgevalle is in Wes-Kaap aangemeld, gevolg deur sewe in Gauteng en vyf in KwaZulu-Natal.

Daar was altesaam nege verdrinkingsvoorvalle waarvan ses in die Wes-Kaap plaasgevind het. Vanjaar is 18 minder van dié gevalle as die vorige jaar aangemeld.

In Desember is ʼn totaal van 1 876 padongelukke by ER24 aangemeld, teenoor 2 172 die vorige jaar. Dié ongelukke sluit in motor-, bus-, motorfiets-, voetganger- en fietsongelukke.

Volgens Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het Gauteng die meeste padongelukke (708) in Desember gehad. In die Wes-Kaap is 336 gevalle aangemeld terwyl 221 padongelukke in die Vrystaat plaasgevind het.

Volgens Xander Loubser, woordvoerder van Ambu-Link, is daar verskeie redes agter die beduidende afname in padongelukke, en veral motorongelukke, in Desember. “Die ekonomie speel ʼn groot rol. Minder mense het op vakansie gegaan om sodoende geld te spaar. Daar was daarom heelwat minder voertuie op die pad,” sê hy.

Loubser meen ook die media en sosiale media skep veral ʼn bewusmaking onder die publiek om meer paraat op die pad te wees. “Die metropolisie het paaie reg oor die land patrolleer. Arrive Alive het ook bewusmakingsveldtogte van stapel gestuur deur byvoorbeeld kennisgewings langs die pad te plaas wat motoriste aanmoedig om versigtig te bestuur.”

Loubser sê strenger regulasies soos die nuwe wysigingswetsontwerp op die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersoortredings (Aarto) wat waarskynlik vanjaar inwerking tree, sal motoriste ook twee keer laat dink voordat hulle jaag. Volgens dié wet sal motoriste wat verkeersoortredings begaan, punte verloor op ʼn merietestelsel wat uiteindelik daartoe kan lei dat die persoon sy of haar rybewys verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.