Die Stad Kaapstad sê sy brand- en reddingsdienste het ʼn afname in die getal brandgevalle in April en Mei verlede jaar beleef, wat bygedra het tot ʼn 13%-afname in noodgevalle in vergelyking met die 2018-’19-boekjaar. Meer mense het wel verlede jaar in brande en ander noodgevalle omgekom as die jaar daarvoor.
Volgens JP Smith, lid van die burgermeesterskomitee vir veiligheid en sekuriteit, het brandbestryders verlede jaar op 22 497 noodgevalle reageer, teenoor 25 877 gevalle in 2018. Dit sluit in brande, ongelukke en gevalle van trauma.
Die totale aantal brande het afgeneem met 9%, van 15 506 in 2018 na 13 997 voorvalle verlede jaar.
Brande by informele nedersetting het met 1,1% toegeneem tot 1 636 voorvalle in 2019, terwyl brande by formele wonings met 14% afgeneem het, van 1 608 gevalle in 2018 na 1 383 gevalle in 2019.
Hoewel daar minder noodgevalle was, het die aantal mense wat dood is in dié gevalle met 50% toegeneem, van 113 in 2018 na 170 in 2019.
Volgens Smith kan die regering reeds vanjaar ʼn verdere afname in die aantal noodgevalle sien weens die afsonderingsmaatreëls wat in Maart afgekondig is. “Veral gevalle van trauma en motorongelukke het aansienlik afgeneem. “Vanjaar was meeste brande beperk tot enkele strukture, hoewel dit steeds ʼn menigte lewens geëis,” sê hy.