Minder padsterftes hierdie Paasnaweek

Argieffoto Foto: memyselfaneye (Pixabay)

Argieffoto Foto: memyselfaneye (Pixabay)

Dipuo Peters, minister van vervoer, het Dinsdag gesê 46% minder padsterftes is oor die afgelope Paasnaweek aangeteken in vergelyking met 2015.

“Die verslag is voorlopig en die statistiek sal met verlede jaar s’n vergelyk word. Hierdie verslag behels syfers wat van Donderdag, 24 Maart tot Maandag, 28 Maart 2016, aangeteken is,” het Peters gesê.

“Volgens die voorlopige verslag is 156 mense tydens Paasnaweek op die paaie dood vergeleke met 287 sterftes verlede jaar. Al die provinsies het minder padsterftes aangeteken as in 2015.”

Volgens Peters was die grootste vermindering in Noordwes, waar agt padsterftes aangeteken is in vergelyking met 28 verlede jaar. Die Vrystaat het ook ʼn aansienlike vermindering van 52% getoon, met 11 padsterftes in die provinsie oor die Paasnaweek.

Sy het gesê die vermindering in die padsterftes is aangeteken ten spyte van 333 226 meer geregistreerde voertuie in die land, wat 3% meer is as verlede jaar.

Gedurende die afgelope Paasnaweek was die besigste paaie die N1 Noord deur Pretoria, Polokwane en Beitbrug, die N3 Suid in die rigting van Durban, die N4 van Pretoria tot Nelspruit en Komatipoort en die N1 van Bloemfontein tot in die Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois ·

Baie bly oor die nuus ,een padsterfte is te veel, maar hoe vergelyk jy padsterftes teen die vorige jaar ,hoeveel meer of minder voertuie was op die pad as verlede jaar , of word die aantal voertuie nie as kriteria gebruik nie ?

Jaques ·

Baie geluk en goed en wel, MAAR…

Daar word wel gespog met hoeveel meer geregistreerde voertuie daar in die stelsel is, maar daar word geen vergelyking getref met hoeveel verkeer daar die jaar in vergelyking met verlede jaar was nie.

Dit volgens my sal die werklike vergelyking iets soos volg wees;

Hoeveelheid voertuie, gemeet / getel verby spesifieke punte vs aantal ongelukke en streftes op die paaie in ‘n gegewe tyd.

Hoeveel minder mense was die paas naweek dalk op die pad in vergeleke met verlede jaar, mense het nie meer baie geld nie, dus baie bly tuis.

Wat-ek-lees ·

Die voorgaande naweek was ook ‘n langnaweek en motoriste het hiervan gebruik gemaak om dan reeds te vertrek na hulle bestemmings deur die 3 dae tussenin ook met vakansie te wees.
Dis dus heel logies dat daar met die verdunning van die daaglikse verkeer minder ongelukke sal wees.
Soos reeds vermeld met voorgaande kommentare moet die verkeersvolume vergelyk word voor daar opgewonde geraak word oor die sg. afname.
Ek sou nog steeds wil weet waar die wetstoepassers hulle bevind wanneer daar nie vakansie of langnaweke is want dan is hulle maar skaars op die paaie.

Pieter Senior ·

Het die droogte en die ekonomiese insinking dalk tog ‘n uitwerking? Dan is dit iets om voor dankbaar te wees dat die tugtiging bietjie soberheid oor ons gebring het……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.