Minder padsterftes oor Paasnaweek

Fikile Mbalula (Foto: Phando Jikelo/African News Agency/ANA)

Altesame 162 mense het vanjaar oor Paasnaweek op die land se paaie omgekom. Dit is 73 (31,5%) minder sterftes vergeleke met verlede jaar se 235 sterftes oor Paasnaweek.

Minder noodlottige ongelukke (134) is ook vanjaar tydens Paasnaweek aangemeld vergeleke met die vorige jaar (189).

Die meeste van vanjaar se ongelukke oor Paasnaweek het op Goeie Vrydag en Saterdag plaasgevind.

Fikile Mbalula, die minister van vervoer, het dié statistieke Donderdagoggend tydens ’n mediakonferensie by die Grasmere-tolhek suid van Johannesburg bekend gemaak.

Hy het ook bekend gemaak dat die grasietydperk om rybewyse wat tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus 2021 verval te hernu, nié weer verleng sal word nie.

Mbalula het vanoggend gesê 28,6% minder ongelukke is vanjaar oor Paasnaweek aangemeld vergeleke met verlede jaar.

Die ongeluk op die N1 waarin 10 mense dood is. (Foto: Twitter/Arrive Alive)

Die meeste padsterftes het vanjaar weer in die nag plaasgevind. ’n Nuwe verskynsel is egter opgemerk en dit is dat die padsterftes vanjaar veral ’n skerp styging soggens tussen 04:00 en 05:00 getoon het. Dít sluit in die busongeluk wat op Goeie Vrydag op die N1 naby Leeu‑Gamka die lewe van tien mense geëis het.

Al die provinsies behalwe die Wes-Kaap en Mpumalanga het vanjaar ’n afname in padsterftes aangeteken.

KwaZulu-Natal het meer as 60% minder padsterfes gehad vergeleke met verlede jaar. Dié provinsie se verkeer het egter weens die vloede vanjaar met 21% oor Paasnaweek afgeneem.

Provinsie Aantal padsterftes Paasnaweek 2022 Aantal padsterftes Paasnaweek 2021
Wes-Kaap34 (30,8% meer)26
Mpumalanga23 (27,8% meer)18
KwaZulu-Natal21 (61,6% minder)54
Noord-Kaap3 (57,1% minder)7
Vrystaat6 (53,8% minder)13
Noordwes11 (45% minder)20
Limpopo19 (44,1% minder)34
Gauteng24 (33,3% minder)36
Oos-Kaap20 (25,9% minder)27

Mbalula het voorts gesê daar was vanjaar oor Paasnaweek ook minder motoriste vervolg vir onder meer spoed, dronkbestuur, die bestuur van ongelisensieerde voertuie en bestuur sonder om veiligheidsgordels vas te maak vergeleke met die vorige jaar.

Altesame 2 395 verkeersboetes is vanjaar vir spoed uitgereik vergeleke met 5 923 verlede jaar.

Hernuwing van lisensies

Mbalula het vanoggend weer die aandag daarop gevestig dat motoriste nog net ’n week oor het tot die finale sperdatum vir die hernuwing van bestuurslisensiekaarte wat tussen 26 Maart 2020 en 31 Augustus 2021 verval het.

Suid-Afrika het tans ’n agterstand van 1,3 miljoen rybewyse wat verval het en nog hernu moet word. Die agterstand van rybewyse wat gedruk moet word, sal volgens die minister teen Junie ook iets van die verlede wees.

Teen Woensdag is 789 600 rybewyse reeds gedruk. Dit beteken 596 513 kaarte moet nog gedruk word.

“Die vertraging met die druk van die bestuurskaarte as gevolg van die masjien wat verlede jaar gebreek het, is ook uit die weg geruim en daar word daagliks 24 uur gewerk om die agterstand in die druk van kaarte in te haal,” het die minister gesê.

“Ons het alles moontlik gedoen om struikelblokke uit die weg te ruim wat die hernuwing van rybewyse belemmer het.  Dit is motoriste se beurt om skouer aan die wiel te sit en [aan die reëls] te voldoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pietertjie ·

Die hoër brandstofprys maak seker dat daar minder voertuie op die pad is. Ek kan nie dink dat motoriste skielik meer bedagsaam geword het nie.

Miskruier ·

Presies, daarom die styging in die Wes Kaap, daar is nog geld.

Kobus ·

Wonder of hy die kwaliteit van die lisensies gesien het. Indien hulle my in die aand gaan aftrek slaap ek in die tjoekie. Geen mens sal kan sien of dit ek is nie.

Misky ·

Wou ek juis nou sê Pietertjie en ek weet van bitter min mense wat die jaar met paasnaweek kon weggaan. Nog minder na die vloede in KZN.

Buks ·

Ek dink ook dis oor minder mense gery het nr1. Of daar was nie geld vir brandstof en drank saam nie. Dis of drink of ry. Drink en ry is te duur..

JohanR ·

Met die prys van petrol kan jy nie meer by familie gaan kuier in die selfde stad, wat nog Durban of Joburg toe ry vir die Pass Naweek!

Swerwer ·

Ja, en so is Mangaung se lyne weer af ek kan
lisensies nie hernu word vandag nie. En so gaan dit maar van dag tot dag, die dag wat hul aan lyn is
is daar soveel dat almal nie geholpe kan raak nie. Maak mens keelvol!

Manie ·

Dit lyk asof die hele stelsel landwyd af is, kon vanoggend nie motor lisensie hernu nie weens stelsel wat af is in die Kaap.

Fritz ·

Wie onthou nog daai voorstel so paar jaar gelede dat almal wat hul lisensies hernu weer die praktiese toets moet doen? Dink net……:):)

Jr ·

Hey paddakop jy en jou govt het seker gemaak ons kan nie ry nie met die prys van petrol. Uuuh duhh. Niks wat JY gedoen het nie

SjN ·

Frikkie, as daar minder verkeer op die paaie is, sal die syfers dus laer wees, hoe moeilik is die som om te maak vir n mininter.

Sarie ·

Ons kan net vir die petrol prys dankie se daarvoor. Want sonder curfew en drank regulasies sou dit n bloedbad wees. Maar baie minder kon bekostig om weg te gaan

Deon ·

Ek was aanvanklik baie beindruk met RTMC Eco Park toe die hernuwingsaansoek gedoen is, maar moes my opinie verander met die afhaal van die aansoek. Gebaseer op ‘n SMS op 23 April dat die kaart klaar is en binne 21 dae afgehaal moet word het ek op 28 April die ver pad gery. By RTMC Eco Park is ek meegedeel dat ek moes wag vir ‘n tweede SMS van die toetssentrum, aangesien die besending met die lisensie wel ontvang is maar nog nie uitgepak is nie en eers oor minstens ‘n week beskikbaar sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.