Minder polisie by Kilian se hofverskyning

Zane Kilian wag buite die landdroshof in Kaapstad om terug na die tronk geneem te word. (Foto: Eunice Stoltz)

Hofverrigtinge in die ondersoek na die skietvoorval op die Kaapse prokureur William Booth is Maandag met byna twee uur vertraag weens probleme met Zane Kilian, die beskuldigde in die saak, se vervoer na die hof. Kilian was teen 10:00 steeds nie van die Goodwood-gevangenis na die landdroshof in Kaapstad gebring nie.

Adv. Johan van Aswegen, Kilian se regsverteenwoordiger, het buite die hof aan Maroela Media gesê hulle sukkel “om iemand te kry om hom te bring. Dit is ʼn frustrasie. Kyk tot wanneer ons moes wag”.

Daar was Maandag ook aansienklik minder polisiebeamptes by Kilian se hofverskyning as wat in die verlede die geval was.

Nadat die hof verdaag het, moes Kilian buite die hof wag omdat daar nog nie vervoer vir hom was nie. Hy is daarna saam met slegs ʼn handvol polisiebeamptes na ʼn ongemerkte polisievoertuig begelei waarna hy na die Goodwood-gevangenis teruggeneem is.

Kilian word in ‘n ongemerkte voertuig weggeneem. (Foto: Eunice Stoltz)

Kilian, die enigste verdagte wat tot op hede in hegtenis geneem is vir die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear, het vandag saam met vier medebeskuldigdes in die afsonderlike saak in die landdroshof in Kaapstad verskyn op aanklagte wat verband hou met die skietvoorval op Booth.

Kilian, asook Kauthar Brown, Ebrahim Deare, Riyaad Gesant en Kim Smith word betrek by die skietvoorval op Booth die oggend van 9 April in Kaapstad. Klagte teen Kilian sluit in sameswering om moord te pleeg, poging tot moord, oortreding van die Wet op Georganiseerde Misdaad en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Die saak is tot 14 Desember vir verdere ondersoek uitgestel.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het buite die hof gesê die NVG monitor die saak waarin Kilian vir die moord op Kinnear in Bishop Lavis, Kaapstad, op 18 September, verskyn.

“Indien hy sy borgtogaansoek in Bellville verloor, verwag ons nie dat hy hier ook aansoek gaan doen om borgtog nie,” het Ntabazalila gesê.

Kilian verskyn Dinsdag weer in die Bellville-streekhof waar sy aansoek om borgtog na verwagting aangehoor gaan word. In hierdie saak word hy aangekla van moord, sameswering om moord te pleeg, bedrog en die onregmatige onderskep van kommunikasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Net in SA. Parlement lede rits in R700000+ voertuie rond, terwyl polisie moet klaarkom met wat hulle kan kry. ‘n Verdagte wat buite die hof staan en wag op ‘n voertuig? The ANC circus continues?

JM ·

Bheki Cele se wonderlike polisie kan nie eers behoorlik beplan nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.